Vir Ouma Yvonne se 70ste verjaarsdagpartytjie het ek my Supermaklike Souttert-resep gebruik en dit was 'n wenner. En dis perfek vir onthaal, omdat dit so vinnig en maklik is.
Omdat so baie mense vir die resep gevra het, het ek na die resep gaan kyk en die volgende aanpassings gemaak - jy het 'n basis van eiers, brood en melk en dan kan jy die vulsel van jou keuse gebruik. Enige iets van vleis tot vegetaries - die keuse is joune.
Supermaklike Souttert - Basiese Resep
6 snye brood, met korsies en al
4 eiers
500 ml melk
250 ml gerasperde kaas of na smaak
Gooi die brood, eiers en melk in 'n voedselverwerker en whizz alles saam tot gemeng en glad (die brood moet fyn wees).
Gooi die mengsel uit in 'n mengbak en voeg nou jou vulsel en speserye by. Gooi die mengsel in 'n gesmeerde glasbak en sprinkel die kaas bo-oor.
Bak vir 45 minute teen 180 minute. Soms is die tert nog bietjie papperig as dit uit die oond kom, maar dit stol soos dit koud word.
Ek het die volgende twee vulsels gebruik:
Kouevleisvulsel:
600 g Franse Polonie, gerasper
10 weense worsies, in wielietjies gesny
250 g spek, gebraai
30 ml pietersielie
10 ml mosterdpoeier
sout (?) en peper na smaak
Spinasievulsel
500 g gevriesde spinasie
250 g spek, gebraai
250 g-bakkie sampioene, gebraai
30 ml pietersielie
10 ml mosterdpoeier
sout en peper na smaak
(As jy spinasie en sampioene gebruik, is dit baie belangrik dat al die vloeistof weggebraai is, anders gaan die ekstra vloeistof veroorsaak dat die tert nie reg stol nie.)
Die tert maak 'n medium reghoekige oondbak vol.
Soos ek genoem het, is die hoeveelheid terte wat jy met hierdie basis kan maak eindeloos.
Vegetaries met een of meer van die volgende:
spinasie
brocolli
sampioene
aspersies
soetrissies
pikanterissies (peppadews)
fetakaas
Vleiserig met een of meer van die volgende:
polonie
worsies
maalvleis
spekvleis
hoender
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment