Wednesday, February 4, 2009

Veerpoeding met Karamelsous

Nagereg is nie 'n gereelde instelling in ons huis nie, maar ek dink dis hoog tyd dat dit word - op Woensdae en Saterdae dink ek. Ek is besig om die resepte op my laptop uit te sorteer, en toe ek so na die duisende nageregresepte kyk, besluit ek net daar dat dit tyd is om 'n paar van hulle uit te probeer.

En aangesien dit bloot toevallig Woensdag is, het ek sommer weggespring met 'n eenvoudige ou reseppie wat ek in my Ouma Miemie se resepteboek gekry het. Die nagereg is goedkoop, eenvoudig en jy het verseker altyd die bestanddele in die kas.

Maar omdat die nagereg so bietjie wel... vervelig gelyk het, het ek besluit om dit op te doilie met 'n Karamelsous wat ek ook in Ouma se resepteboek raakgelees het. En dis net daar waar ek besef het hoekom resepteboekskrywers eers hul resepte moet toets. Ek het verwag dat 'n suiker-en-margarienmengsel teen daardie hitte 'n stewige hand nodig gaan hê, maar ek het so ampertjies 'n baie taai spulletjie in die drein afgegooi!

Op die ou end was alles darem heel aangenaam. Perfek om daai laataand soettand so bietjie te streel!

Veerpoeding

1 eier
125 ml suiker
15 ml margarien
knippie sout
250 ml bruismeel
125 ml melk
5 ml vanillageursel

Klits die margarien en suiker saam. Voeg die eier by en klits verder tot lig en romerig. Sif die meel en sout oor die eiermengsel, en gooi die melk en vanillageursel by. Klits weer goed tot alles gemeng is. Smeer 'n kleinerige oondvaste bak (of spuit met kleefwerende middel). Skep die beslag in die bak en bak in 'n voorverhitte oond teen 180 grade vir ongeveer 30 minute.

Karamelsous

250 ml suiker
15 ml margarien
500 ml kookwater
15 ml vlapoeier
5 ml vanillageursel

Plaas die suiker en margarien in 'n kastrolletjie - ek het gevind 'n kleefvrye kastrolletjie werk die beste. Verhit die suiker en margarien tot die suiker gesmelt het en die mengsel ligbruin verkleur. Wees geduldig - dit neem 'n tydjie. Roer maar gedurig. En wees versigtig - die mengsel is warmer as warm! Wanneer die suiker gesmelt het, moet jy vinnig werk want dit brand baie maklik.
Roer nou die kookwater by. Staan 'n entjie weg, want dit spat iets vreesliks. Hou aan met roer tot die mengsel glad is en die gekook bedaar het. Meng 'n bietjie water by die vlapoeier in en roer dit by die mengsel in. Kook tot die vla gaar is en die sous verdik. Roer die vanillageursel by.

No comments:

Post a Comment