Friday, April 23, 2010

Die Selderysop Dieet Resep

Ek het heelwat versoeke vir die resep van die Selderysop-Dieet gekry. Om die eerlike waarheid te sê, het ek al van dié ene vergeet. Dit het noudiedag in ‘n gesprek opgekom en toe besluit ek om dit te gaan soek en bietjie te kyk hoe dit lyk.

Na bewering is die dieet vir ernstig-oorgewig mense by hospitale in die VSA gegee om vinnig gewig te verloor voor hartchirugie. Die idee is, omdat die sop uit negatiewe kalorieë bestaan, dit laag in vet en laag in koolhidrate is, jy soveel van die sop kan inneem as wat jy wil, veral as jy honger is. (Seker beter as daardie sjokolade, huh?) Maar dan ook, die groente in die sop is gesond, hoog in anti-oksidante, kan jou immuunstelsel ‘n hupstoot gee en kan jou energievlakke verhoog.

Aan die ander kant kan dit jou hoofpyn gee, lighoofdig, winderig en sommer net plein beduiweld maak.

Maar mense wat die dieet gevolg het, beweer dat hulle 5-10kg per week verloor het. Minder as jy kroek, en meer as jy oefen. Dié dieet sal verseker enige dieetkundige se hare sal laat rys, want hulle sal dadelik vir jou sê dat dit nie volhoubaar is nie, en dat jy die gewig vinniger gaan optel as wat jy dit afgeval het. Maar vir ‘n vinnige oplossing vir ‘n spesiale geleentheid mag dit dalk net werk…

En omdat ek een van daardie mense is wat ‘n dieet nodig het, maar nog nooit werklik by een kon hou nie – gaan ek die resep vir julle gee en nie ‘n woord verder sê nie…

*** As enige van julle die dieet gaan volg, laat weet bietjie hoe dit gegaan het en hoeveel gewig julle verloor het.

(En onthou, as jy enige mediese probleme het of onseker voel, is dit beter om maar eerder met jou dokter of dieetkundige te gesels voordat jy enige dieet volg.)

Die Sop Resep

900 g tamaties
6 groot uie
1 bondel seldery
2 x 410g blikke groenboontjies
1,5 kg wortels
2 biefaftrekselblokkies
1 pakkie wit uiesop

Doop die tamaties in kookwater sodat die skilletjies maklik kan afkom. Skil en kap die groente in blokkies, plaas in ‘n gróót kastrol en bedek met water. Gooi die aftrekselblokkies en soppoeier in en kook vinnig vir 10 minute. Verlaag dan die hitte en prut tot die groente sag is.
Geur met sout, peper, kruie en spesery na smaak.
As jy van ‘n “chunky” sop hou, kan jy dit net so gebruik, maar andersins kan jy dit fynmaak met ‘n stick blender of in ‘n versapper.
Dit maak ‘n groot hoeveelheid sop, so sorg dat jy spasie in jou vrieskas het!

Die Dieet

Die idee met die dieet is dat jy soveel sop kan eet as wat jy wil, veral as jy honger is. Dan ook :

DAG EEN –
Eet soveel sop en vars vrugte as wat jy wil, maar GEEN piesangs.

DAG TWEE –
Eet soveel sop en groente (rou of gestoom) as wat jy wil, maar GEEN ertjies, boontjies of mielies.
Beloon jouself met ‘n lekker groot gebakte aartappel met ‘n klont margarien bo-op.

DAG DRIE –
Eet soveel sop, vrugte en groente as wat jy wil, maar GEEN piesangs en aartappels.

DAG VIER –
Eet soveel sop as wat jy wil, en ‘n maksimum van 6 piesangs.
Drink soveel vetvrye melk as wat jy wil.

DAG 5 –
Eet soveel sop as wat jy wil, 500 g beesvleis of vis en 6 ryp tamaties.
Drink ten minste 6 glase water op hierdie dag.
Jy kan die beesvleis vervang met hoender.

DAG 6 –
Eet soveel sop, beesvleis en groente as wat jy wil, maar GEEN aartappels.

DAG 7 –
Eet soveel sop, bruinrys en groente as wat jy wil.
Drink onversoete vrugtesap.

Die Reëls –
Geen brood
Geen alkohol
Geen dieetkoeldrank
Drink 6-8 glase water
Neem ‘n multivitamien
Probeer koffie vermy, maar as jy moet – kafeïenvry
Drink eerder rooibos, groen- of kruietee d
Drink tee en koffie met vetvrye melk.
Jy kan onversoete vrugtesap drink, maar dan moet dit 1 deel vrugtesap verdun met 4 dele water wees.
Oefen ! Oefen ! Oefen !

Die Perfekte (Ontwykende) Frikkadel

Ek is baie bly vir dié van julle wat ‘n onfeilbare frikkadel-resep het, maar ek soek nog na hom. Daar is egter ‘n paar wat ek al uitprobeer het, wat ek nogal kan aanbeveel.

Wenke vir die Perfekte Frikkadel:
Die geheim van ‘n perfekte frikkadel is om die mengsel liggies met twee vurke te meng. As jy dit te veel meng, gaan jy met kanonballe sit.
Maalvleis met ‘n hoër vetinhoud sal sappiger frikkadelle maak.
Klam broodkrummels met ‘n eetlepel melk aan voordat jy dit by die maalvleis voeg. Sommige soorte brood absorbeer die vog uit die vleis en dan kan dit die frikkadelle uitdroog.
As jou frikkadelle uitmekaarval terwyl dit kook, is die kanse goed dat jou bestanddele nie fyn genoeg opgekap is nie. Veral uie moet ekstra fyn wees, maar growwe broodkrummels is ook ‘n sondebok. Die beste manier is om dit maar alles in die voedselverwerker te gooi en dit ordentlik op te kap. Voeg dit dan by die maalvleis.
Sommige resepte vra vir ‘n mengsel van bees- en varkmaalvleis. Neem sommer varkworsies en druk die vleis uit.

Doodgewone Frikkadelle

800 g maalvleis (of 500 g beesmaalvleis en 300 g varkmaalvleis)
2 eiers
2 ml bakpoeier
2 snye brood, korsies verwyder en in melk geweek
50 ml pietersielie, gekap
sout en peper

Meng al die bestanddele vir die frikkadelle, geur na smaak en vorm klein bolletjies. Braai in bietjie olie in ‘n pan tot bruin van buite en gaar van binne. (Jy kan dit ook op ‘n bakplaat in die oond, of in ‘n oondbak met bietjie water in gaarmaak.)

Frikkadelle met Groente

Hierdie frikkadelle gebruik aartappels en wortels om dit te bind. Die sampioenroomsop kan met bruin of wit uiesoppoeier vervang word.

2 snye brood
200 ml melk
2 aartappels
2 wortels
2 uie
1 kg maalvleis
1 pakkie sampioen roomsoppoeier

Week die brood in die melk. Rasper die aartappels en wortels fyn. Rasper die uie grof. Meng alles saam, geur na smaak met sout en peper. Maak balletjies en pak in gesmeerde oondbak. Bak oop teen 180 grade. Draai die frikkadelle na ongeveer 15 minute om en bak dan vir ‘n verdere 15 minute.

Sampioenfrikkadelle

Die kaas hierin is ‘n lekker variasie. Die frikkadelle en sous vries goed. Laat dit heeltemal afkoel en verpak in plastiekbakkies.

450 g gemaalde beesvleis
250 g gemaalde varkvleis
2 eiers, geklits
175 ml gerasperde Cheddar
3 ml droë tiemie
knippie swartpeper
olie vir braai
410 g-blik sampioenroomsop
20 ml gekapte pietersielie

Meng al die bestanddele behalwe die olie, sampioensop en pietersielie goed. Vorm in 12 ronde frikkadelle, maar moenie te styf vasdruk nie.
Verhit olie en braai die frikkadelle aan albei kante bruin. Dreineer op kombuispapier.
Plaas frikkadelle in ‘n kastrol, verdun die sampioenroomsop met 150 ml kookwater en skep oor frikkadelle. Prut 25 minute stadig. Roer af en toe.
Sprinkel gekapte pietersielie bo-oor net voor opdiening.

Veselryke Frikkadelle

250 g maalvleis
30 g hawermout
30 g semelryke bruismeel (Nutty Wheat)
1 geelwortel, fyn gerasper
1 eier, geklits
sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele vir die frikkadelle en maak 8 klein frikkadelle. Braai in bietjie olie tot bruin van buite en gaar van binne. (Of bak dit in die oond op ‘n bakplaat.)

Kerrie-Frikkadelle

Geen versameling frikkadelle gaan volledig wees sonder ‘n kerriefrikkadel-resep nie. Om een of ander rede smaak frikkadelle net lekkerder in ‘n kerriesous. Vir ‘n heerlike variasie, kan jy skyfies pynappel bo-op die frikkadelle pak voordat jy die sous oorgooi.

4 snye brood
300 ml water
1 kg gemaalde beesvleis
15 ml sout
2,5 ml peper
2,5 ml neut
2,5 ml fyn naetjies
80 ml bruin asyn
2 eiers

Week die brood in die water. Druk die water uit en maak die brood fyn. Meng die res van die bestanddele liggies saam. Maak frikkadelle en rol in bietjie meel.
Pak in gesmeerde oondbak. Daar moet ‘n ruimtetjie tussen die frikkadelle wees.

Maak die volgende sous en gooi oor:

Kerrriesous:
5 groot uie
250 ml asyn
750 ml water
5 ml sout
15 ml borrie
7,5 ml kerriepoeier
45 ml appelkooskonfyt
30 ml suiker
15 ml koekmeelblom

Voorverhit oond tot 180ºC.
Kap uie fyn en braai in olie tot bruin. Roer meelblom, kerrie en borrie by. Voeg res van bestanddele by. Gooi oor die frikkadelle.
Bedek die bak en bak vir 30 minute. Haal die deksel af en bak vir ‘n verdere 30 minute.

Maak Self Likeur

Verlede naweek besluit ek dat ek darem maar baie lus is vir 'n bietjie Cape Velvet of Amarula of iets dergliks. En net daar dink ek nee wag, ek het mos hoeveel resepte vir tuisgemaakte likeur - kom ons probeer van hulle en dan kan ek julle mos kom vertel hoe dit afgegaan het... Nou moet julle nie vir een oomblik wonder nie - tuisgemaakte likeur is ryk, met al daardie room en kondensmelk. Dan dan ook, moenie duur brandewyn vir die likeur gebruik nie - gebruik die goedkoopste een wat jy kan kry.

Maar jy hóéf nie brandewyn te gebruik nie. Jy kan dit ook vervang met whiskey, cane, gin of vodka. Of selfs 'n kombinasie van die lot (hang ook af van hoe hard jy wil hê hy moet skop!). Tuisgemaakte likeur met brandewyn smaak maar net vir my die lekkerste...

Tuisgemaakte likeur is regtig die moeite werd om te maak. En dis makliker as maklik. Ek het die volgende twee gemaak en die gaste was in vervoering daaroor. Twee aande en twee bottels later is alles op. So probeer dit gerus en dan laat weet julle my hoe dit afgegaan het...

Koffieroom Likeur

397g-blik kondensmelk
250 ml vars room
250 ml brandewyn
15 ml vanillageursel
15 ml karamelgeursel
15 ml koffiepoeier, opgelos in bietjie kookwater

Gooi al die bestanddele in 'n mengbak en klits goed. Giet in 'n skoon fles of bottel, draai deksel toe en verkoel in yskas. Skud goed voor gebruik.
Lewer so 800 ml likeur.

Sjokoladeroom Likeur

397g-blik kondensmelk
250 ml vars room
250 ml brandewyn
15 ml vanillageursel
20 ml kakao, gemeng met bietjie kookwater
1 ml amandelgeursel

Gooi al die bestanddele in 'n mengbak en klits goed. Giet in 'n skoon fles of bottel, draai deksel toe en verkoel in yskas. Skud goed voor gebruik.
Lewer so 500 ml likeur.

En dan is daar nog 'n lekker een wat ek al vantevore gemaak het:

Sjokoladetoffieroom Likeur

397g-blik kondensmelk
250 ml vars room
250 ml brandewyn
5 ml gliserien
5 ml karamelgeursel
5 ml kitskoffie, in bietjie kookwater opgelos
5 ml kakao, in bietjie kookwater opgelos

Gooi al die bestanddele in 'n mengbak en klits goed. Giet in 'n skoon fles of bottel, draai deksel toe en verkoel in yskas. Skud goed voor gebruik.
Lewer so 500 ml likeur.

Die Beste Spaghetti Bolognaise

Dit lyk my pasta bly maar net die gewildste! Ek het so baie versoeke vir allerhande pasta-geregte gekry dat julle maar moet uitkyk vir dié wat nog sal volg.

Eerste op die lys is 'n versoek vir lekker Spaghetti Bolognaise. Ek gaan nou heeltemal eerlik wees met julle - die lekkerste Spaghetti Bolognaise-sous is ALL JOY se Braised Vegetable. Regtig. En makliker kry jy nie - maak oop, gooi in, kook deur. Maar omdat ons die altyd All Joy-sous plaaslik te koop kry nie, moes ek ook maar baie uitspring en self 'n sousie bymekaar slaan. Sorg maar dat jy altyd so een of twee blikke "chopped tomatoes" en "tomato & onion mix" in jou koskas het, want met daai twee toor mens sommer gou-gou 'n lekker sousie op.

Spaghetti Bolognaise is 'n groot wenner in ons huis. My kinders hou baie van pasta, en die sous gee my altyd 'n goeie geleentheid om groente in hulle lyfies in te skollie. As jou kinders so groente-weerstandig soos myne is, maak gaar groente baie fyn (ek gooi dit in 'n versapper) en gooi dit by jou spaghetti sous. Jou kinders gaan nie eers wéét hulle eet groente nie.

Die lekker ding van 'n Spaghetti Bolognaise-sous is dat jy dit kan inspan om die lewe vir jouself baie makliker te maak. Verdubbel die resep (of selfs meer) en maak 'n groot hoeveelheid sous met een slag. Deel die res in porsies op en vries dit.

Lekker Spaghetti Bolognaise

Hierdie is 'n bekende Afrikaanse tydskrif (komaan, julle weet ek mag nie sê nie) se resep vir Spaghetti Bolognaise wat ek bietjie aangepas het. Die bestanddele lyk baie, maar dit is die moeite werd om te maak en glad nie so ingewikkeld soos dit lyk nie. Dis baie lekker...

125 ml olie
4 uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyn
2 gerasperde wortels
1.5 kg beesvleis
3 x 410g blikke tamaties
4 x 60g pakkies tamatiepasta
5 ml droë basiliekruid
knippie droë roosmaryn
knippie droë origanum
30 ml suiker
sout en peper na smaak
375 ml groente- of beesaftreksel
500 g spaghetti

Verhit die olie en braai die uie en knoffel saam tot sag. Voeg die maalvleis by en roer tot gaar. Voeg die res van die bestanddele by (behalwe die spaghetti), bring tot kookpunt en prut saggies vir ongeveer 2 ure. Kook intussen die spaghetti volgens die instruksies op die pak. Bedien saam met die sous.

Variasie: Voeg een van die volgende (of sommer almal) by -
2 groenrissies, fyn gekap
1 klein bossie seldery, fyn gekap
300 g spinasie, fyn gekap

Estelle se Spaghetti Bolognaise

Ek weet nie wie Estelle is nie, en ek vra groot omverskoning dat ek haar resep gebruik sonder haar toestemming. Ek het dit eendag op die internet raakgeloop en dit is regtig 'n eenvoudige resep. En dit smaak heerlik. So dankie Estelle !

15 ml olie
1 ui, fyn gekap
1 knoffelhuisie, fyn
125 g maalvleis
15 ml tamatiepasta
½ lourierblaar
2 ml suiker
2 ml sout
100 ml vleisaftreksel of water
pietersielie, peper en paprika na smaak100 g spaghetti
5 ml margarien

Verhit die olie en braai die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die maalvleis by en braai tot die vleis gaar is. Voeg die res van die bestanddele (behalwe die spaghetti) by en laat saggies prut vir 20 minute. Geur na smaak en verwyder die lourierblaar. Kook intussen die spaghetti volgens die aanwysings op die pak, dreineer en voeg die margarien by. Skep die spaghetti op 'n groot opdienbord en skep die sous bo-op.

Spaghetti Bolognaise Gebak

En wie het gesê Spaghetti Bolognaise moet in 'n pot gemaak word? Probeer gerus dié een as jy haastig is - alles word sommer net in 'n oondbak gepak en in die oond gesit. Jy kan die nierboontjies vervang met "baked beans" of enige ander geblikte groente as jy lus voel. (Ek het dit sommer uitgelos).

500 g maalvleis
1 ui, gekap
5 ml sout
5 ml chilli poeier, opsioneel
1 x 410g-blik nierbone
300 g rou spaghetti
750 ml tamatiesap
knippie peper
15 ml Worcestershiresous
250 ml kaas

Braai die maalvleis in bietjie olie tot bruin, voeg die uie, sout, peper en chilli poeier by en kook tot die ui gaar is. Plaas nou die maalvleis in 'n gesmeerde oondvaste bak. Skep die boontjies bo-oor. Breek die spaghetti in kleiner stukkies en gooi bo-oor. Meng die tamatiesap en Worchesterhire sous saam en gooi die oor die spaghetti. Bak vir 1 uur teen 180 grade. Sprinkel die kaas bo-oor en plaas terug in die oond tot die kaas gesmelt is..

Junior Spaghetti Bolognaise

Hierdie reseppie is spesiaal vir kinders. As jou kinders nie van heel groente hou nie, maak die groente gaar en baie fyn en gooi dit dan by die maalvleissous in.

3 pakkies "Two Minute Noodles"½ ui, geskil en baie fyn gekap15 ml olie of botter500 g maalvleis
2 tamaties, gerasper
250 ml gemengde groente (gevries)
125 ml water

Kook die noedels in 600 ml kookwater. Moenie die geursakkies byvoeg nie. Hou 125 ml van die vloeistof terug. Soteer die ui in die olie tot gaar en deurskynend. Voeg die maalvleis by en braai. Roer die tamaties hierby in en kook vir 'n paar minute. Roer nou die geursakkies in. Voeg die gemengde groente en water by en kook vir 'n verdere 5-10 minute tot die groente sag is.
Bedien die maalvleis op die voorbereide noedels.

Friday, June 5, 2009

Lekker Dinge Met Maalvleis

Maalvleis is 'n groot gunsteling in ons huis. Dis goedkoop (wel, redelik goedkoop) en veelsydig en so maklik om mee te werk. Ons het ten minste twee maal per week iets met maalvleis op die spyskaart. Hier is drie van my gunsteling maalvleis-resepte:


Yvonne se Bobotie

Ek dink seker nie dat dit nodig is vir my om vir enige Suid-Afrikaner te vertel waar bobotie oorspronklik vandaan kom nie. Bobotie is nou so eg-Suidafrikaans soos sonskyn en braaivleis. Mens kry ingewikkelde boboties en maklike boboties en eenvoudige boboties en fynproewers-boboties. Maar dan kry mens ook verspot maklik en baie lekker, soos dié een van my skoonma.

1 ui
5 ml sout
20 ml blatjang
20 ml appelkooskonfyt
1 eier
60 ml rosyntjies
lourierblare
500 g maalvleis
7,5 ml kerriepoeier
5 ml borrie
15 ml asyn
sout en peper na smaak
1 sny brood (of meer indien verkies)
100 ml melk

Voorverhit die oond tot 180oC.
Rasper die ui en braai in 'n bietjie olie. Voeg die sout, kerrie, blatjang, borrie en appelkooskonfyt by. Voeg die maalvleis by en braai tot gaar. Week brood in water, druk die water uit en voeg dit by. Meng goed. Skep in oondvaste bak. Klits die eier en melk saam en gooi oor. Druk lourierblare in indien verkies. Bak vir 45 minute of tot eier gestol is.

Chilli Con Carne

Vir dié van julle wat nie weet nie, chilli con carne is 'n geurige bredie wat van gemaalde beesvleis, rissies, knoffel en uie gemaak word. Dis afgelei van die Spaanse woord wat letterlik "vleis met rissies" beteken. Die dis het oorspronklik sy oorsprong in Mexiko gehad, maar die Amerikaners het dit ook aangeneem as een van hulle tradisionele disse en daar staan dit bekend as "chilli". Inteendeel, chilli con carne is die amptelike dis van die Amerikaanse staat Texas. Meeste van ons ken chilli con carne met maalvleis en boontjies, maar regte chilli con carne-food fundies sê daar is geen boontjies of tamaties in chilli con carne nie. En dit moet sterk wees. Soos Matt Weinstock (bekende LA rubiekskrywer) een maal gesê het, was dit "reputed to open eighteen sinus cavities unknown to the medical profession!"

Persoonlik hou ek nie baie van sterk kos nie - enige iets sterker as matige kerrie laat my mond brand en bederf enige smaak wat die gereg moontlik kon gehad het. Maar ek hou baie van chilli con carne, en veral die boontjies daarin. Hierdie is een van my gunteling resepte - makliker kan dit nie:

500 g maalvleis
1 ui
1 groen soetrissie
1 rooi soetrissie
1 klein blikkie tamatiepuree
410g blik tamatie-en-uiesmoor
410g blik niertjieboontjies
410g blik gebakte boontjies in tamatiesous

Braai die ui en soetrissies in bietjie olie tot sag. Voeg die maalvleis by en kook tot gaar.
Voeg die tamatiepuree, smoor en boontjies by en laat dit vir 15 minute lank prut tot die sous dik en alles deurgaar is.
Geur met sout, peper, rooipeper, rissies en Tabasco sous na smaak.
Bedien warm op rys.

Het jy geweet?
Vegetariese chilli con carne staan bekend as chilli sin carne.

Herderspastei

Ek het nie 'n idee wie die "herder" is wat oorsponklik aan hierdie "pastei" gedink het nie, maar ek wil graag - toe gaan wiki ek dit. "Cottage pie" is 'n Engelse dis wat bestaan uit een of ander soort vleis met 'n laag kapokaartappels bo-op dit. Die gereg het sy naam iewers in 1790 al gekry, toe hulle begin het om aartappels te verbou om die armes kos te gee. Dit is ook dan waar die "cottage" vandaan kom - verwys na die huis waar arm landelike mense gewoon het. Hulle het die dis tradisioneel met oorskietvleis gemaak, met die aartappelkors bo-op. Die term "shepherd's pie" het in ongeveer 1870 in gebruik gekom, maar niemand weet hoekom die dis se naam verander het nie. Daar word beweer dat "cottage pie" verwys na die dis as dit met beesvleis gemaak word, terwyl "shepherd's pie" verwys na die dis as dit van skaapvleis gemaak is.

Maak nie saak hoe die gereg sy naam gekry het nie, dit bly een van ons gunstelinge in ons eie beskeie "cottage" op die platteland van Napier! Ek verkies dit om bietjie groente daarin te "sneak". Probeer gerus dié een:

1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyn
15 ml sonneblomolie
1 kg gemaalde beesvleis
500 ml fyn broodkrummels
410g blik gemengde groente
10 ml sout
peper na smaak
25 ml Worcestersous
50 ml blatjang
6 groot aartappels
5 ml sout
knippie peper
5 ml pietersielie
botter of margarien
melk

Braai die ui en knoffelhuisie in bietjie olie tot sag. Voeg die beesvleis hierby en kook tot gaar. Voeg die broodkrummels by en meng goed deur. Dreineer die groente en voeg by. Indien die mengsel te los is, kan jy bietjie van die groente se water byvoeg om dit te bind. Geur met die sout, peper, braaivleis speserye en Worcestersous.Skep die mengsel in 'n gesmeerde oondvaste bak. Skep die blatjang bo-op die mengsel en smeer dit gelyk. Maak riffels in die mengsel met 'n vurk.
Kook nou die aartappels tot sag. Maak fyn en geur met botter, sout en pietersielie. Voeg melk by om die aartappels sag en romerig te maak. Skep dit bo-op die vleismengsel en bak teen 180 grade in die oond tot dit puntjies van die aartappel bruin is.

Death by Chocolate

Almal het seker al van Death by Chocolate gehoor... Wel, hierdie tert is Death by Chocolate, Death by Cholesterol, Death by Sugar - en alles tussenin! Dit is soet en ryk en hopeloos te dekadent, maar o hel, dis lekker. Dis egter ook aan die duur kant, so beslis nie 'n koek om elke dag te eet nie...

Sjokolade-Dood Koek

Sjokoladekoek:
6 eiers, gesky
375 ml strooisuiker
375 ml koekmeelblom
180 ml kakao
2,5 ml koeksoda
2,5 ml sout
knypie fyn kaneel
15 ml bakpoeier
250 ml kookwater
7,5 ml koffiepoeier
180 ml olie
5 ml vanillageursel

Karamelsous:
397g-blik kondensmelk
200 ml karamelstroop (gebruik Robertson's s'n in die buis)
3 groot Bar Ones, in dun skyfies gesny

Roomlaag:
500 ml room
15 ml versiersuiker
5 ml vanillageursel
1 Flake

Voorverhit die oond tot 180 grade.

Tertlaag: Klits die eierwitte styf. Klits nou die eiergele daarby. Voeg die suiker by en klits weer goed. Sif die meel, kakao, koeksoda, sout, kaneel en bakpoeier saam en vou dit by die eiermengsel in. Meng die kookwater en koffiepoeier. Roer die olie en vanillageursel daarby. Roer die koffiemengsel by die beslag. Skep die beslag in twee ronde gesmeerde tertborde (24cm deursnee). 'n Oondpan werk ook goed.
Bak die tert vir 40 minute of tot gaar. (Berei intussen die sous, want dit moet oor die warm tert gegooi word.)
Steek die bokant van die tert met 'n vurk vol gaatjies sodat die sous beter kan intrek.

Karamelsous: Verhit die kondensmelk en karamelsous in 'n kastrol tot baie warm. Gooi dit oor die tert wanneer dit uit die oond kom. Pak die Bar One skyfies bo op die tert. Laat dit heeltemal afkoel.

Roomlaag: Klits die room saam met die versiersuiker en vanilla tot dik. Smeer dit oor die tert. Breek die Flake in stukkies en sprinkel dit oor die tert. Versier verder soos verkies.

Sunday, April 12, 2009

Eet Meer Groente - Broccoli

Het jy geweet?

Broccoli is a dark green vegetable, with small, tight heads (curds) that are mounted on stem-like buds. It is a member of Brassica family of the Cruciferous vegetables, which includes kale, cabbage, cauliflower and Brussels sprouts. Its scientific name is Brassica aleracea and was originated in Italy. Broccoli has become a popular vegetable all over the world and is used in a variety of dishes and cuisines. However, very few people know that it has significant health benefits, which can prevent the occurrence of many hazardous diseases. Its nutritional value can be estimated from the fact that it is the storehouse of protein, carbohydrates, calcium, iron, Vitamin A and Vitamin C. Apart from this; it contains effective phytochemicals and antioxidants, which combat various ailments. Some of the profound health benefits of Broccoli are given below.

Nutritional Value of Broccoli
Given below is the amount of nutrients in 100 gm of broccoli:
Carbohydrates - 6.64 gm
Sugars - 1.7 gm
Dietary Fiber - 2.6 gm
Fat - 0.37 gm
Protein - 2.82 gm
Water - 89.30 gm
Vitamin A equiv - 31 μg
β-carotene - 361 μg
Thiamine (Vit. B1) - 0.071 mg
Riboflavin (Vit. B2) - 0.117 mg
Niacin (Vit. B3) - 0.639 mg
Pantothenic acid (B5) - 0.573 mg
Vitamin B6 - 0.175 mg
Folate (Vit. B9) - 63 μg
Vitamin C - 89.2 mg
Calcium - 47 mg
Iron - 0.73 mg
Magnesium - 21 mg
Phosphorus - 66 mg
Potassium - 316 mg
Zinc - 0.41 mg
Energy - 30 kcal (140 kJ)

Health and Nutritional Benefits of Broccoli
Weight reduction
Controls Diabetes as it is a rich source of chromium that helps regulate insulin and blood sugar.
Anti-aging
Help prevent arthritis
Prevents Osteoporosis ,due to its high calcium content
Has anti cancer properties and suppresses lung, colon and breast caners
Helps prevent Alzheimer’s disease
Rich in cholesterol-reducing fiber and has antiviral and antiulcer activity
Cures constipation
Helps fight against Toxemia and Neuritis
Helps in controlling high blood pressure
Helps regulate the digestions of food
May prevent cancer in organs and glands with epithelial tissue, because of its high Vitamin A content
Contains a substance called Sulphorafane, which reduces the production of malignant tumors.

Broccoli Gebak

500 g broccoli
20 ml botter
20 ml koekmeelblom
knippie mosterd
sout en peper na smaak
300 ml melk
3 eiers, geskei
75 g gerasperde Cheddarkaas

Kook die broccoli tot gaar, maar nog effens bros en dreineer. Smelt die botter en voeg die meel by. Voeg die mosterd, sout en peper by. Kook oor lae hitte en roer die melk geleidelik by. Laat kook terwyl gedurig geroer word. Verwyder van die hitte en voeg die broccoli by. Voeg die eiergele by die broccoli-mengsel. Klits die eierwitte styf tot hulle sagte punte vorm en vou dit by die mengsel in. Gooi die mengsel in 'n gesmeerde oondvaste bak. Sprinkel die kaas bo-oor. Bak teen 180 grade vir 45 minute.

Gebakte Broccoli

500 g gaar broccoli
250 g gerasperde kaas
200 ml melk
3 eiers
sout en peper na smaak

Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer 'n vlak tertbord of spuit met kleefwerende sproei. Pak die gaar broccoli in die bord en sprinkel die kaas bo-oor. Klits die melk en eiers saam en geur na smaak met sout en peper. Gooi die mengsel bo-oor die broccoli. Plaas die bord in 'n groter bak met kookwater in. Bak die gereg onbedek vir 45 minute of tot die eiermengsel gestol is. Bedien warm.

Het jy geweet?
Die tegniek om 'n gereg binne-in 'n ander bak met kookwater te bak, word bain marie genoem. Dit is 'n sagter manier van gaarmaak - die water dien as isolasie sodat die gereg nie vinnig uitdroog of brand nie. Dit word veral gebruik by geregte waar eiers 'n hoofbestanddeel is. Die metode is eintlik eenvoudig - sit jou bak met die gereg in binne-in 'n groter bak. Maak die groter bak so halfvol kookwater en sit dit so in die oond.

Broccoli Kasserol

500 g gaar broccoli, in stukkies gesny
3 eiers
400g-blik sampioen roomsop
250 ml mayonnaise
125 ml gerasperde Cheddarkaas
1 ui, gekap
sout en swartpeper na smaak
6 soutbeskuitjies (bv Salticrax of Bacon Kips)

Meng die broccoli, eiers, sop, mayonnaise en ui saam. Geur met sout en peper. Gooi die mengsel in 'n gesmeerde oondvaste bak en sprinkel die kaas bo-oor. Maak die soutbeskuitjies fyn en sprinkel dit bo-oor. Bak teen 180 grade vir ongeveer 30 minute, tot die sous borrel en die kaas gesmelt en goudbruin is.

Heerlike Broccoli-Gereg

1 kg broccoli
250 g spekstukkies (bits of bacon)
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250 ml vars room
400 g Emmentallerkaas, gerasper

Breek die broccoli in stukke en was deeglik af. Stoom tot half gaar. Braai intussen die spek tot bros. Plaas die broccoli in 'n gesmeerde, oondvaste bak, strooi die spek bo-oor en geur na smaak met sout en peper. Giet die room oor en meng tot goed gemeng. Sprinkel die kaas bo-oor en bak in 'n voorverhitte oond teen 180 grade vir ongeveer 20 minute of tot die kaas gesmelt en goudbruin is. Bedien warm.

Geroomde Broccoli

1 kop broccoli
250 ml room
2 knoffelhuisies, gekneus
1 ml fyn neutmuskaat
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
45 ml gerasperde Parmessaankaas
2,5 ml suurlemoensap

Maak die broccoli skoon en kap die stingels en blommetjies effens kleiner. Kook dit in kokende soutwater tot net sag, so ongeveer 4 - 6 minute. Dreineer goed en hou eenkant. Giet die room, knoffel, neutmuskaat en sout en peper in 'n kastrolletjie en bring tot kookpunt. Prut liggies vir ongeveer 5 minute tot die mengsel verdik en verminder het. Voeg die broccoli by en verhit. Maak dit fyner met 'n aartappel "masher". Verwyder van hitte en roer die Parmessaan en suurlemoensap by. Bedien warm.

Broccoli Slaai

Hierdie is seker een van die bekendste slaaie in Suid-Afrikaanse kombuise en daar bestaan heelwat variasies van die slaai. Hierdie een is die een wat ek altyd maak - die slaaisous is net onweerstaanbaar lekker vir my!

2 broccoli koppe
1 ui, fyn gekap
250 g spek stukkies (bits of bacon)
150 g Cheddar, in klein blokkies gesny
Sous:
250 ml mayonnaise
100 ml kondensmelk

Breek die broccoli in stukkies en spoel dit af. Sny in kleiner stukkies. Kook die broccoli en ui in vinnig-kokende water vir 2 minute. Dreineer in 'n vergiettes sodat al die water afloop. Braai die spek tot gaar en bros. Laat alles goed afkoel. Meng die broccoli met die spek, en meng dan die kaasblokkies daarby in. Meng die mayonnaise en kondensmelk saam en roer dit deur die slaai. Verkoel voor opdiening.

Broccoli-Kapokaartappels

Hierdie reseppie is die ideale oplossing as jy nog 'n kop broccoli in die yskas het, maar jy opsien teen gestoomde broccoli met witsous. Dis heerlik - en ek wed jou selfs die kinders gaan dit eet!

750 g aartappels
1 kop broccoli
250 ml melk
30 g margarien
250 ml gerasperde Cheddarkaas
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Skil die aartappels en sny in die helfte deur. Kook in vinnig-kokende water vir 10 minute. Spoel intussen die broccoli af en sny in kleiner stukkies. Gooi die broccoli by die aartappels en kook vir 'n verdere 5 minute. Dreineer en gooi die aartappel en broccoli terug in die kastrol. Maak die groente fyn met 'n aartappel "masher". Gooi die melk en margarien by, en meng goed deur. Roer die kaas in en geur na smaak en sout en peper. Bedien warm.

Broccoli-en-Spek Muffins

Hierdie is 'n treffer - hetsy as bykos saam met 'n braai of sommer net vir tee tyd.

375 ml gaar broccoli, in klein stukkies gesny
200 g spek stukkies (bits of bacon)
1 ui, fyn gekap
50 g gerasperde Cheddar
10 ml vars pietersielie, gekap
5 eiers
125 ml olie
140 g koekmeelblom
12,5 ml bakpoeier
5 ml mosterdpoeier
5 ml sout

Voorverhit die oond tot 200 grade. Braai die spek en die ui tot die spek gaar en die ui goudbruin en sag is. Meng die broccoli, spek, ui, kaas en pietersielie saam. Klits die eiers en olie saam. Sif die meel, bakpoeier, mosterd en sout saam. Voeg alles bymekaar in 'n groot mengbak en meng liggies tot net gemeng. Skep die mengsel in gesmeerde muffinpannetjies. Bak vir 25-30 minute tot gaar. Laat effens afkoel en keer uit. Bedien louwarm met botter.

Variasie: Vir 'n spesiale geleentheid kan jy teen die einde van die baktyd 'n bietjie gerasperde kaas bo-op elke muffin sprinkel, asook 'n bietjie paprika. Plaas die muffins terug in die oond sodat dit kaas kan smelt.