Friday, April 23, 2010

Maak Self Likeur

Verlede naweek besluit ek dat ek darem maar baie lus is vir 'n bietjie Cape Velvet of Amarula of iets dergliks. En net daar dink ek nee wag, ek het mos hoeveel resepte vir tuisgemaakte likeur - kom ons probeer van hulle en dan kan ek julle mos kom vertel hoe dit afgegaan het... Nou moet julle nie vir een oomblik wonder nie - tuisgemaakte likeur is ryk, met al daardie room en kondensmelk. Dan dan ook, moenie duur brandewyn vir die likeur gebruik nie - gebruik die goedkoopste een wat jy kan kry.

Maar jy hóéf nie brandewyn te gebruik nie. Jy kan dit ook vervang met whiskey, cane, gin of vodka. Of selfs 'n kombinasie van die lot (hang ook af van hoe hard jy wil hê hy moet skop!). Tuisgemaakte likeur met brandewyn smaak maar net vir my die lekkerste...

Tuisgemaakte likeur is regtig die moeite werd om te maak. En dis makliker as maklik. Ek het die volgende twee gemaak en die gaste was in vervoering daaroor. Twee aande en twee bottels later is alles op. So probeer dit gerus en dan laat weet julle my hoe dit afgegaan het...

Koffieroom Likeur

397g-blik kondensmelk
250 ml vars room
250 ml brandewyn
15 ml vanillageursel
15 ml karamelgeursel
15 ml koffiepoeier, opgelos in bietjie kookwater

Gooi al die bestanddele in 'n mengbak en klits goed. Giet in 'n skoon fles of bottel, draai deksel toe en verkoel in yskas. Skud goed voor gebruik.
Lewer so 800 ml likeur.

Sjokoladeroom Likeur

397g-blik kondensmelk
250 ml vars room
250 ml brandewyn
15 ml vanillageursel
20 ml kakao, gemeng met bietjie kookwater
1 ml amandelgeursel

Gooi al die bestanddele in 'n mengbak en klits goed. Giet in 'n skoon fles of bottel, draai deksel toe en verkoel in yskas. Skud goed voor gebruik.
Lewer so 500 ml likeur.

En dan is daar nog 'n lekker een wat ek al vantevore gemaak het:

Sjokoladetoffieroom Likeur

397g-blik kondensmelk
250 ml vars room
250 ml brandewyn
5 ml gliserien
5 ml karamelgeursel
5 ml kitskoffie, in bietjie kookwater opgelos
5 ml kakao, in bietjie kookwater opgelos

Gooi al die bestanddele in 'n mengbak en klits goed. Giet in 'n skoon fles of bottel, draai deksel toe en verkoel in yskas. Skud goed voor gebruik.
Lewer so 500 ml likeur.

1 comment:

  1. 2 blikke kondensmelk
    i blik vodka
    1 teelepel kaneel
    Meng en gooi in toeskroef bottel
    Hou 24 uur in yskas om geur te ontwikkel
    Bedien in likeur glasie met halwe knippie kaneel bo oor

    ReplyDelete