Friday, April 23, 2010

Die Beste Spaghetti Bolognaise

Dit lyk my pasta bly maar net die gewildste! Ek het so baie versoeke vir allerhande pasta-geregte gekry dat julle maar moet uitkyk vir dié wat nog sal volg.

Eerste op die lys is 'n versoek vir lekker Spaghetti Bolognaise. Ek gaan nou heeltemal eerlik wees met julle - die lekkerste Spaghetti Bolognaise-sous is ALL JOY se Braised Vegetable. Regtig. En makliker kry jy nie - maak oop, gooi in, kook deur. Maar omdat ons die altyd All Joy-sous plaaslik te koop kry nie, moes ek ook maar baie uitspring en self 'n sousie bymekaar slaan. Sorg maar dat jy altyd so een of twee blikke "chopped tomatoes" en "tomato & onion mix" in jou koskas het, want met daai twee toor mens sommer gou-gou 'n lekker sousie op.

Spaghetti Bolognaise is 'n groot wenner in ons huis. My kinders hou baie van pasta, en die sous gee my altyd 'n goeie geleentheid om groente in hulle lyfies in te skollie. As jou kinders so groente-weerstandig soos myne is, maak gaar groente baie fyn (ek gooi dit in 'n versapper) en gooi dit by jou spaghetti sous. Jou kinders gaan nie eers wéét hulle eet groente nie.

Die lekker ding van 'n Spaghetti Bolognaise-sous is dat jy dit kan inspan om die lewe vir jouself baie makliker te maak. Verdubbel die resep (of selfs meer) en maak 'n groot hoeveelheid sous met een slag. Deel die res in porsies op en vries dit.

Lekker Spaghetti Bolognaise

Hierdie is 'n bekende Afrikaanse tydskrif (komaan, julle weet ek mag nie sê nie) se resep vir Spaghetti Bolognaise wat ek bietjie aangepas het. Die bestanddele lyk baie, maar dit is die moeite werd om te maak en glad nie so ingewikkeld soos dit lyk nie. Dis baie lekker...

125 ml olie
4 uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyn
2 gerasperde wortels
1.5 kg beesvleis
3 x 410g blikke tamaties
4 x 60g pakkies tamatiepasta
5 ml droë basiliekruid
knippie droë roosmaryn
knippie droë origanum
30 ml suiker
sout en peper na smaak
375 ml groente- of beesaftreksel
500 g spaghetti

Verhit die olie en braai die uie en knoffel saam tot sag. Voeg die maalvleis by en roer tot gaar. Voeg die res van die bestanddele by (behalwe die spaghetti), bring tot kookpunt en prut saggies vir ongeveer 2 ure. Kook intussen die spaghetti volgens die instruksies op die pak. Bedien saam met die sous.

Variasie: Voeg een van die volgende (of sommer almal) by -
2 groenrissies, fyn gekap
1 klein bossie seldery, fyn gekap
300 g spinasie, fyn gekap

Estelle se Spaghetti Bolognaise

Ek weet nie wie Estelle is nie, en ek vra groot omverskoning dat ek haar resep gebruik sonder haar toestemming. Ek het dit eendag op die internet raakgeloop en dit is regtig 'n eenvoudige resep. En dit smaak heerlik. So dankie Estelle !

15 ml olie
1 ui, fyn gekap
1 knoffelhuisie, fyn
125 g maalvleis
15 ml tamatiepasta
½ lourierblaar
2 ml suiker
2 ml sout
100 ml vleisaftreksel of water
pietersielie, peper en paprika na smaak100 g spaghetti
5 ml margarien

Verhit die olie en braai die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die maalvleis by en braai tot die vleis gaar is. Voeg die res van die bestanddele (behalwe die spaghetti) by en laat saggies prut vir 20 minute. Geur na smaak en verwyder die lourierblaar. Kook intussen die spaghetti volgens die aanwysings op die pak, dreineer en voeg die margarien by. Skep die spaghetti op 'n groot opdienbord en skep die sous bo-op.

Spaghetti Bolognaise Gebak

En wie het gesê Spaghetti Bolognaise moet in 'n pot gemaak word? Probeer gerus dié een as jy haastig is - alles word sommer net in 'n oondbak gepak en in die oond gesit. Jy kan die nierboontjies vervang met "baked beans" of enige ander geblikte groente as jy lus voel. (Ek het dit sommer uitgelos).

500 g maalvleis
1 ui, gekap
5 ml sout
5 ml chilli poeier, opsioneel
1 x 410g-blik nierbone
300 g rou spaghetti
750 ml tamatiesap
knippie peper
15 ml Worcestershiresous
250 ml kaas

Braai die maalvleis in bietjie olie tot bruin, voeg die uie, sout, peper en chilli poeier by en kook tot die ui gaar is. Plaas nou die maalvleis in 'n gesmeerde oondvaste bak. Skep die boontjies bo-oor. Breek die spaghetti in kleiner stukkies en gooi bo-oor. Meng die tamatiesap en Worchesterhire sous saam en gooi die oor die spaghetti. Bak vir 1 uur teen 180 grade. Sprinkel die kaas bo-oor en plaas terug in die oond tot die kaas gesmelt is..

Junior Spaghetti Bolognaise

Hierdie reseppie is spesiaal vir kinders. As jou kinders nie van heel groente hou nie, maak die groente gaar en baie fyn en gooi dit dan by die maalvleissous in.

3 pakkies "Two Minute Noodles"½ ui, geskil en baie fyn gekap15 ml olie of botter500 g maalvleis
2 tamaties, gerasper
250 ml gemengde groente (gevries)
125 ml water

Kook die noedels in 600 ml kookwater. Moenie die geursakkies byvoeg nie. Hou 125 ml van die vloeistof terug. Soteer die ui in die olie tot gaar en deurskynend. Voeg die maalvleis by en braai. Roer die tamaties hierby in en kook vir 'n paar minute. Roer nou die geursakkies in. Voeg die gemengde groente en water by en kook vir 'n verdere 5-10 minute tot die groente sag is.
Bedien die maalvleis op die voorbereide noedels.

No comments:

Post a Comment