Friday, June 5, 2009

Lekker Dinge Met Maalvleis

Maalvleis is 'n groot gunsteling in ons huis. Dis goedkoop (wel, redelik goedkoop) en veelsydig en so maklik om mee te werk. Ons het ten minste twee maal per week iets met maalvleis op die spyskaart. Hier is drie van my gunsteling maalvleis-resepte:


Yvonne se Bobotie

Ek dink seker nie dat dit nodig is vir my om vir enige Suid-Afrikaner te vertel waar bobotie oorspronklik vandaan kom nie. Bobotie is nou so eg-Suidafrikaans soos sonskyn en braaivleis. Mens kry ingewikkelde boboties en maklike boboties en eenvoudige boboties en fynproewers-boboties. Maar dan kry mens ook verspot maklik en baie lekker, soos dié een van my skoonma.

1 ui
5 ml sout
20 ml blatjang
20 ml appelkooskonfyt
1 eier
60 ml rosyntjies
lourierblare
500 g maalvleis
7,5 ml kerriepoeier
5 ml borrie
15 ml asyn
sout en peper na smaak
1 sny brood (of meer indien verkies)
100 ml melk

Voorverhit die oond tot 180oC.
Rasper die ui en braai in 'n bietjie olie. Voeg die sout, kerrie, blatjang, borrie en appelkooskonfyt by. Voeg die maalvleis by en braai tot gaar. Week brood in water, druk die water uit en voeg dit by. Meng goed. Skep in oondvaste bak. Klits die eier en melk saam en gooi oor. Druk lourierblare in indien verkies. Bak vir 45 minute of tot eier gestol is.

Chilli Con Carne

Vir dié van julle wat nie weet nie, chilli con carne is 'n geurige bredie wat van gemaalde beesvleis, rissies, knoffel en uie gemaak word. Dis afgelei van die Spaanse woord wat letterlik "vleis met rissies" beteken. Die dis het oorspronklik sy oorsprong in Mexiko gehad, maar die Amerikaners het dit ook aangeneem as een van hulle tradisionele disse en daar staan dit bekend as "chilli". Inteendeel, chilli con carne is die amptelike dis van die Amerikaanse staat Texas. Meeste van ons ken chilli con carne met maalvleis en boontjies, maar regte chilli con carne-food fundies sê daar is geen boontjies of tamaties in chilli con carne nie. En dit moet sterk wees. Soos Matt Weinstock (bekende LA rubiekskrywer) een maal gesê het, was dit "reputed to open eighteen sinus cavities unknown to the medical profession!"

Persoonlik hou ek nie baie van sterk kos nie - enige iets sterker as matige kerrie laat my mond brand en bederf enige smaak wat die gereg moontlik kon gehad het. Maar ek hou baie van chilli con carne, en veral die boontjies daarin. Hierdie is een van my gunteling resepte - makliker kan dit nie:

500 g maalvleis
1 ui
1 groen soetrissie
1 rooi soetrissie
1 klein blikkie tamatiepuree
410g blik tamatie-en-uiesmoor
410g blik niertjieboontjies
410g blik gebakte boontjies in tamatiesous

Braai die ui en soetrissies in bietjie olie tot sag. Voeg die maalvleis by en kook tot gaar.
Voeg die tamatiepuree, smoor en boontjies by en laat dit vir 15 minute lank prut tot die sous dik en alles deurgaar is.
Geur met sout, peper, rooipeper, rissies en Tabasco sous na smaak.
Bedien warm op rys.

Het jy geweet?
Vegetariese chilli con carne staan bekend as chilli sin carne.

Herderspastei

Ek het nie 'n idee wie die "herder" is wat oorsponklik aan hierdie "pastei" gedink het nie, maar ek wil graag - toe gaan wiki ek dit. "Cottage pie" is 'n Engelse dis wat bestaan uit een of ander soort vleis met 'n laag kapokaartappels bo-op dit. Die gereg het sy naam iewers in 1790 al gekry, toe hulle begin het om aartappels te verbou om die armes kos te gee. Dit is ook dan waar die "cottage" vandaan kom - verwys na die huis waar arm landelike mense gewoon het. Hulle het die dis tradisioneel met oorskietvleis gemaak, met die aartappelkors bo-op. Die term "shepherd's pie" het in ongeveer 1870 in gebruik gekom, maar niemand weet hoekom die dis se naam verander het nie. Daar word beweer dat "cottage pie" verwys na die dis as dit met beesvleis gemaak word, terwyl "shepherd's pie" verwys na die dis as dit van skaapvleis gemaak is.

Maak nie saak hoe die gereg sy naam gekry het nie, dit bly een van ons gunstelinge in ons eie beskeie "cottage" op die platteland van Napier! Ek verkies dit om bietjie groente daarin te "sneak". Probeer gerus dié een:

1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyn
15 ml sonneblomolie
1 kg gemaalde beesvleis
500 ml fyn broodkrummels
410g blik gemengde groente
10 ml sout
peper na smaak
25 ml Worcestersous
50 ml blatjang
6 groot aartappels
5 ml sout
knippie peper
5 ml pietersielie
botter of margarien
melk

Braai die ui en knoffelhuisie in bietjie olie tot sag. Voeg die beesvleis hierby en kook tot gaar. Voeg die broodkrummels by en meng goed deur. Dreineer die groente en voeg by. Indien die mengsel te los is, kan jy bietjie van die groente se water byvoeg om dit te bind. Geur met die sout, peper, braaivleis speserye en Worcestersous.Skep die mengsel in 'n gesmeerde oondvaste bak. Skep die blatjang bo-op die mengsel en smeer dit gelyk. Maak riffels in die mengsel met 'n vurk.
Kook nou die aartappels tot sag. Maak fyn en geur met botter, sout en pietersielie. Voeg melk by om die aartappels sag en romerig te maak. Skep dit bo-op die vleismengsel en bak teen 180 grade in die oond tot dit puntjies van die aartappel bruin is.

1 comment:

  1. If you're trying to lose kilograms then you absolutely have to start following this totally brand new personalized keto meal plan.

    To create this keto diet service, certified nutritionists, fitness trainers, and professional chefs joined together to develop keto meal plans that are effective, painless, economically-efficient, and delightful.

    Since their grand opening in January 2019, hundreds of people have already completely transformed their body and well-being with the benefits a proper keto meal plan can offer.

    Speaking of benefits: in this link, you'll discover eight scientifically-certified ones provided by the keto meal plan.

    ReplyDelete