Friday, June 5, 2009

Death by Chocolate

Almal het seker al van Death by Chocolate gehoor... Wel, hierdie tert is Death by Chocolate, Death by Cholesterol, Death by Sugar - en alles tussenin! Dit is soet en ryk en hopeloos te dekadent, maar o hel, dis lekker. Dis egter ook aan die duur kant, so beslis nie 'n koek om elke dag te eet nie...

Sjokolade-Dood Koek

Sjokoladekoek:
6 eiers, gesky
375 ml strooisuiker
375 ml koekmeelblom
180 ml kakao
2,5 ml koeksoda
2,5 ml sout
knypie fyn kaneel
15 ml bakpoeier
250 ml kookwater
7,5 ml koffiepoeier
180 ml olie
5 ml vanillageursel

Karamelsous:
397g-blik kondensmelk
200 ml karamelstroop (gebruik Robertson's s'n in die buis)
3 groot Bar Ones, in dun skyfies gesny

Roomlaag:
500 ml room
15 ml versiersuiker
5 ml vanillageursel
1 Flake

Voorverhit die oond tot 180 grade.

Tertlaag: Klits die eierwitte styf. Klits nou die eiergele daarby. Voeg die suiker by en klits weer goed. Sif die meel, kakao, koeksoda, sout, kaneel en bakpoeier saam en vou dit by die eiermengsel in. Meng die kookwater en koffiepoeier. Roer die olie en vanillageursel daarby. Roer die koffiemengsel by die beslag. Skep die beslag in twee ronde gesmeerde tertborde (24cm deursnee). 'n Oondpan werk ook goed.
Bak die tert vir 40 minute of tot gaar. (Berei intussen die sous, want dit moet oor die warm tert gegooi word.)
Steek die bokant van die tert met 'n vurk vol gaatjies sodat die sous beter kan intrek.

Karamelsous: Verhit die kondensmelk en karamelsous in 'n kastrol tot baie warm. Gooi dit oor die tert wanneer dit uit die oond kom. Pak die Bar One skyfies bo op die tert. Laat dit heeltemal afkoel.

Roomlaag: Klits die room saam met die versiersuiker en vanilla tot dik. Smeer dit oor die tert. Breek die Flake in stukkies en sprinkel dit oor die tert. Versier verder soos verkies.

No comments:

Post a Comment