Friday, April 23, 2010

Die Perfekte (Ontwykende) Frikkadel

Ek is baie bly vir dié van julle wat ‘n onfeilbare frikkadel-resep het, maar ek soek nog na hom. Daar is egter ‘n paar wat ek al uitprobeer het, wat ek nogal kan aanbeveel.

Wenke vir die Perfekte Frikkadel:
Die geheim van ‘n perfekte frikkadel is om die mengsel liggies met twee vurke te meng. As jy dit te veel meng, gaan jy met kanonballe sit.
Maalvleis met ‘n hoër vetinhoud sal sappiger frikkadelle maak.
Klam broodkrummels met ‘n eetlepel melk aan voordat jy dit by die maalvleis voeg. Sommige soorte brood absorbeer die vog uit die vleis en dan kan dit die frikkadelle uitdroog.
As jou frikkadelle uitmekaarval terwyl dit kook, is die kanse goed dat jou bestanddele nie fyn genoeg opgekap is nie. Veral uie moet ekstra fyn wees, maar growwe broodkrummels is ook ‘n sondebok. Die beste manier is om dit maar alles in die voedselverwerker te gooi en dit ordentlik op te kap. Voeg dit dan by die maalvleis.
Sommige resepte vra vir ‘n mengsel van bees- en varkmaalvleis. Neem sommer varkworsies en druk die vleis uit.

Doodgewone Frikkadelle

800 g maalvleis (of 500 g beesmaalvleis en 300 g varkmaalvleis)
2 eiers
2 ml bakpoeier
2 snye brood, korsies verwyder en in melk geweek
50 ml pietersielie, gekap
sout en peper

Meng al die bestanddele vir die frikkadelle, geur na smaak en vorm klein bolletjies. Braai in bietjie olie in ‘n pan tot bruin van buite en gaar van binne. (Jy kan dit ook op ‘n bakplaat in die oond, of in ‘n oondbak met bietjie water in gaarmaak.)

Frikkadelle met Groente

Hierdie frikkadelle gebruik aartappels en wortels om dit te bind. Die sampioenroomsop kan met bruin of wit uiesoppoeier vervang word.

2 snye brood
200 ml melk
2 aartappels
2 wortels
2 uie
1 kg maalvleis
1 pakkie sampioen roomsoppoeier

Week die brood in die melk. Rasper die aartappels en wortels fyn. Rasper die uie grof. Meng alles saam, geur na smaak met sout en peper. Maak balletjies en pak in gesmeerde oondbak. Bak oop teen 180 grade. Draai die frikkadelle na ongeveer 15 minute om en bak dan vir ‘n verdere 15 minute.

Sampioenfrikkadelle

Die kaas hierin is ‘n lekker variasie. Die frikkadelle en sous vries goed. Laat dit heeltemal afkoel en verpak in plastiekbakkies.

450 g gemaalde beesvleis
250 g gemaalde varkvleis
2 eiers, geklits
175 ml gerasperde Cheddar
3 ml droë tiemie
knippie swartpeper
olie vir braai
410 g-blik sampioenroomsop
20 ml gekapte pietersielie

Meng al die bestanddele behalwe die olie, sampioensop en pietersielie goed. Vorm in 12 ronde frikkadelle, maar moenie te styf vasdruk nie.
Verhit olie en braai die frikkadelle aan albei kante bruin. Dreineer op kombuispapier.
Plaas frikkadelle in ‘n kastrol, verdun die sampioenroomsop met 150 ml kookwater en skep oor frikkadelle. Prut 25 minute stadig. Roer af en toe.
Sprinkel gekapte pietersielie bo-oor net voor opdiening.

Veselryke Frikkadelle

250 g maalvleis
30 g hawermout
30 g semelryke bruismeel (Nutty Wheat)
1 geelwortel, fyn gerasper
1 eier, geklits
sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele vir die frikkadelle en maak 8 klein frikkadelle. Braai in bietjie olie tot bruin van buite en gaar van binne. (Of bak dit in die oond op ‘n bakplaat.)

Kerrie-Frikkadelle

Geen versameling frikkadelle gaan volledig wees sonder ‘n kerriefrikkadel-resep nie. Om een of ander rede smaak frikkadelle net lekkerder in ‘n kerriesous. Vir ‘n heerlike variasie, kan jy skyfies pynappel bo-op die frikkadelle pak voordat jy die sous oorgooi.

4 snye brood
300 ml water
1 kg gemaalde beesvleis
15 ml sout
2,5 ml peper
2,5 ml neut
2,5 ml fyn naetjies
80 ml bruin asyn
2 eiers

Week die brood in die water. Druk die water uit en maak die brood fyn. Meng die res van die bestanddele liggies saam. Maak frikkadelle en rol in bietjie meel.
Pak in gesmeerde oondbak. Daar moet ‘n ruimtetjie tussen die frikkadelle wees.

Maak die volgende sous en gooi oor:

Kerrriesous:
5 groot uie
250 ml asyn
750 ml water
5 ml sout
15 ml borrie
7,5 ml kerriepoeier
45 ml appelkooskonfyt
30 ml suiker
15 ml koekmeelblom

Voorverhit oond tot 180ºC.
Kap uie fyn en braai in olie tot bruin. Roer meelblom, kerrie en borrie by. Voeg res van bestanddele by. Gooi oor die frikkadelle.
Bedek die bak en bak vir 30 minute. Haal die deksel af en bak vir ‘n verdere 30 minute.

No comments:

Post a Comment