Sunday, February 15, 2009

Peppermint Crisp Tert

Pepperment Crisp Tert is my dood! Ek is lief vir alle yskasterte, maar as ek ná 'n ete net plek het vir één stukkie tert uit 'n keuse van honderd, sal dit Peppermint Crisp wees. Daar is eintlik niks ingewikkeld aan 'n Peppermint Crisp Tert nie. Sommige resepte wat ek al uitprobeer het, stol wel nie so lekker nie. Dus gebruik ek deesdae net Ouma Yvonne se resep. Dit kan nie flop nie en dis heerlik.

Ek het die naweek met Ouma Yvonne se verjaarsdagpartytjie vergeet om Peppermint Crisp-sjokolade te koop vir die tert, maar gelukkig het ek nog peppermentsjokolade-brokkies ("morsels") gehad wat ek by 'n catering verskaffer gekoop het. Dit het 'n heerlike geur aan die tert gegee - ek vermoed die pepperment is dalk bietjie skerper as dié in die sjokolade wat ons in die winkels koop.

Peppermint Crisp Tert

1 pakkie suurlemoen jellie
250 ml kookwater
200g-pakkie Tennisbeskuitjies
melk
250 ml room 0f 2 koevertjies Orley Whip
5 ml strooisuiker
1 blik karamelkondensmelk
100 g pepperment sjokolade of sjokoladesplinters
50 g pepperment sjokolade, gerasper

(Ek gebruik sommer 'n laag Tennisbeskuitjies vir 'n kors, maar as jy deftig wil wees, kan jy 'n ordentlike beskuitjiekrummel-kors gebruik.)

Los die jellie in die kookwater op en laat eenkant staan en afkoel.
Doop die Tennisbeskuitjies vinnig in 'n bietjie melk. (Dit maak die beskuitjies swaarder en sagter - dus lig dit nie op as jy die vulsel oorgooi nie en dit sny makliker.)
Pak dit onderin 'n reghoekige tertbak. Klits die room styf met die strooisuiker. Voeg nou die karamelkondensmelk by en klits goed tot dit gemeng en 'n gladde tekstuur het. Gooi die koue jellie by en meng goed deur. Rasper die 100 g pepperment sjokolade by die mengsel in, of voeg die sjokoladesplinters by en vou versigtig in.
Skep die mengsel bo-op die beskuitjies en maak gelyk. Rasper die 50 g sjokolade bo-oor.
Plaas in die yskas om te stol.

No comments:

Post a Comment