Ek het eendag een houertjie room en een houertjie maaskaas in die yskas gehad. Meeste kaaskoeke gebruik meer as een houertjie maaskaas, dus was dit nie 'n opsie om een van daardie te maak nie. Maar ek was lus vir 'n kaaskoekerige iets, en toe besluit ek om my eie skepsel te maak. En was die skepsel 'n treffer! Ek het die tert vir Ouma Yvonne se 70ste verjaarsdagpartytjie gemaak en die mense was gaande daaroor. En dit is so 'n maklike tert om te maak. Wat 'n bonus!
Die lekker ding van die tert (behalwe die smaak!) is die veelsydigheid daarvan. Afhangende van hoe jy voel of wat jy in die kas het, kan jy die volgende kombinasies vir die bolaag probeer:
Naartjiewiggies en lemoenjellie
Kersies en kersiejellie
Perskeskywe en perskejellie
Pynappel en pynappeljellie
Enige ingemaakte bessies en aarbeijellie
Ek gebruik altyd 'n kors van vingerbeskuitjies, maar aangesien dit 'n groot tert is en dus 'n duur storie kan raak, kan jy ook 'n beskuitjie-krummelkors gebruik of sommer net Tennisbeskuitjies op die boom van die bak uitpak.
Léanda se Spesiale Kaaskoektert
1 blik aarbeie in stroop
1 pakkie suurlemoenjellie
250 ml kookwater
400g Boidoirbeskuitjies
250 ml room
5 ml strooisuiker
250 g gladde maaskaas
397g-blikkie kondensmelk
125 ml suurlemoensap
1 pakkie aarbeijellie
250 ml kookwater
Dreineer die blik aarbeie en hou die stroop eenkant. Sny die aarbeie in die helfte deur.
Meng die suurlemoenjellie met 250 ml kookwater en laat eenkant afkoel.
Gooi die stroop in 'n vlak bak en doop die beskuitjies VINNIG aan albei kante in die stroop. (Dit maak die beskuitjies swaarder en sagter, dus lig dit nie op as jy die vulsel oorgooi nie en sny dit makliker - vingerbeskuitjies neem egter vog baie vinnig op, dus moet jy dit super-vinnig doop!)
Pak dit in 'n laag onderin 'n groot reghoekige tertbak.
Klits die room tot styf saam met die strooisuiker. Voeg nou die maaskaas hierby en klits dit weer goed.
Gooi die kondensmelk in 'n aparte bak en voeg die suurlemoensap by. Roer tot dik. Skep dit by die mengsel en roer meng goed. Voeg nou die afgekoelde jellie by. Skep die mengsel bo-op die kors en maak gelyk. Plaas in die yskas om te stol.
Maak intussen die aarbeijellie met die orige 250 ml kookwater aan en laat eenkant om af te koel.
Na so 2 of 3 ure in die yskas kan jy die tert uithaal en die aarbeie bo op die tert pak. Gooi nou die aarbeijellie versigtig bo oor die tert en die aarbeie en plaas terug in die yskas sodat die jellielaag kan stol.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment