Monday, February 16, 2009

Broodjies vir Braaivleis

Ons Suid-Afrikaners is lief vir braaivleis, en ons is nog liewer vir 'n broodjie saam met ons braaivleis. Braaibroodjies is altyd lekker, maar daar is iets spesiaals aan 'n louwarm broodjie wat jy self gebak het. En daar is baie resepte vir broodjies om van te kies en te keur. Ek deel hier 'n paar van my gunsteling staatmakers met julle.

Bierbroodjie

500 g bruismeel
340ml-blikkie bier (of botteltjie)
knippie sout
200 g gerasperde kaas
pietersielie en paprika vir bo-oor sprinkel

Meng die bruismeel en sout saam in 'n mengbak. Roer die bier hierby tot gemeng. (Dit is 'n stywe, klewerige deeg.) Skep die deeg uit in 'n broodpannetjie. Ek vind 'n kleefvrye pannetjie wat met Spray & Cook gespuit is, werk baie goed. Sprinkel die kaas bo-oor en dan die pietersielie en paprika. Bak teen 180 grade vir ongeveer 50 minute. Laat die broodjie vir 30 minute in die pannetjie afkoel en keer dan versigtig uit op 'n draadrakkie.

Variasie:
Ek het al soppoeier ook by die bierbroodjie ingemeng vir bietjie ekstra smaak, maar dan moet jy 'n tweede blikkie bier oopmaak om genoeg vloeistof te kry om alles deurgemeng te kry.
(Goeie verskoning om die res van die bier uit te drink...!)

Mieliebroodjie

Daar is 'n hele paar resepte vir mieliebroodjies, maar hierdie een is maklik, goedkoop en eenvoudig.

500 g bruismeel
5 ml sout
2 eiers
125 ml melk
30 ml olie
410g-blik geroomde suikermielies (sweetcorn)
200 g kaas, gerasper
pietersielie vir bo-oor sprinkel

Meng die bruismeel en sout in 'n mengbak. Klits die eiers en olie saam in 'n maatbeker. Voeg die melk by en klits weer. Roer nou die suikermielies by die mengsel in. Gooi die nat mengsel by die meel en roer goed tot 'n stywe deeg. Skep uit in 'n gesmeerde broodpannetjie en sprinkel die kaas bo-oor. Sprinkel 'n bietjie pietersielie bo-oor indien verkies. Bak vir ongeveer 50 minute in 'n voorverhitte oond teen 180 grade. Laat vir 30 minute in die pannetjie afkoel en keer dan uit op 'n draadrakkie.

Uiebroodjie

My persoonlike gunsteling is 'n uiebroodjie. Vars gebak en saam met regte-egte botter is dit hemels! Daar is net so baie resepte vir uiebroodjies, maar hier is die een wat ek altyd gebruik.

500 g bruismeel
1 pakkie bruin uiesoppoeier (jy kan wit uiesoppoeier ook gebruik)
5 ml sout
500 ml karringmelk
200 g gerasperde kaas
pietersielie en paprika vir bo-oor strooi

Meng die bruismeel, uiesoppoeier en sout in 'n mengbak. Meng die karringmelk daarby in tot dit 'n stywe deeg vorm. Skep die deeg uit in 'n gesmeerde broodpannetjie en sprinkel die kaas, pietersielie en paprika bo-oor. Bak in die oond teen 180 grade vir ongeveer 50 minute tot gaar. Laat vir 30 minute afkoel in die pannetjie en keer dan uit op 'n draadrakkie.

Sampioenbroodjie

Hierdie een het ek self eendag per ongeluk uitgedink toe ek mense vir 'n braai kry, maar nie uiesoppoeier of karringmelk in die huis het nie. Wat dan gemaak? Improvise!

500 g bruismeel
1 pakkie sampioensoppoeier
5 ml sout
500 ml melk
50 ml suurlemoensap of wit asyn
200 g gerasperde kaas
pietersielie en paprika vir bo-oor strooi
1 groot sampioen, in skywe gesny (opsioneel)

Meng die bruismeel, sampioensoppoeier en sout saam in 'n mengbak. Gooi die melk en suurlemoensap saam in 'n maatbeker en roer tot die melk verdik (gebruik 'n bietjie meer as 50 ml nie genoeg is nie). Gooi nou die melk by die meelmengsel en roer goed tot 'n stywe deeg. Skep dit uit in 'n gesmeerde broodpannetjie en sprinkel die kaas bo-oor. Pak die sampioenskywe in die middel van die brood af en sprinkel die pietersielie en paprika bo-oor. Bak in 'n voorverhitte oond teen 180 grade vir ongeveer 50 minute of tot gaar. Laat vir 30 minute afkoel in die pannetjie en keer dan uit op 'n draadrak.

Deftige Broodjie

Ek het een Kersfees uitgehang met hierdie broodjie. Dit was nogal heel lekker, al was dit 'n bietjie geil (soos my vriendin Wilma sou sê!).

500 g bruismeel
1 pakkie sampioensoppoeier (of uiesop indien jy verkies)
250g-houer sampioene
250 g sampioenstukkies (bits of bacon)
500 ml karringmelk
200 g gerasperde kaas
pietersielie en paprika vir bo-oor strooi

Maak die sampioene skoon en sny dit in skywe. Braai die spekvleis in 'n pan tot gaar en bros. Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Hou 2/3 van die sampioen-en-spekvleismengsel eenkant.
Voeg die bruismeel en sampioensoppoeier saam in 'n mengbak. Voeg nou die 2/3 sampioen-en-spekmengsel en die helfte van die kaas hierby en vou deur. Voeg die karringmelk by en meng goed tot 'n stywe deeg gevorm het. Skep dit uit in 'n gesmeerde broodpannetjie. Sprinkel die orige kaas bo-oor, en dan die 1/3 sampioen-en-spekmengsel. Sprinkel pietiersielie en paprika bo-oor en bak in 'n voorverhitte oond teen 180 grade vir so 50 minute of tot die broodjie gaar is.
Laat vir 30 minute in die pannetjie afkoel en keer dan op 'n draadrakkie uit.

No comments:

Post a Comment