Friday, March 6, 2009

Lekker Gebakte Kaaskoek

Ek hou van kaaskoek - sommer baie. Gebakte kaaskoek, yskas kaaskoek, kaaskoek met vrugte, karamel of marmerkaaskoek. So tussendeur is ek altyd op soek na 'n lekker kaaskoekresep. So maak Ouma Yvonne so 'n tydjie terug vir ons hierdie kaaskoek. Sy was nie baie impressed nie, maar ek het gedink dit is een van die bestes wat ek nog geproe het. Wat uit my kombuis uit kom, in elk geval! Gaan probeer hom gerus en vertel my wat julle dink...

Die oorspronklike resep sê jy moet hom met roomkaas maak, maar ek het gevind laevet gladde maaskaas of selfs vetvrye gladde maaskaas werk net so goed. En dan hoef ek nie so skuldig te voel as ek twéé stukkies eet nie! (Room? Watter room?!)

Gebakte Kaaskoek

beskuitjiekors van jou keuse
(200 g Tennis- of Mariebeskuitjies met gesmelte margarien werk altyd goed)
3 x 250 g gladde maaskaas
250 ml strooisuiker
250 ml room
4 eiers
60 ml suurlemoensap
125 ml koekmeelblom

Voorverhit die oond tot 180 grade. Spuit 'n losboompan (23cm) met Spray & Cook.
Meng die koekies met die margarien tot goed gemeng en druk dit op die basis van die pan vas.
Klits die maaskaas en die suiker saam. Voeg die room stadig hierby. Meng die eiers en die suurlemoensap saam en klits die mengsel tot styf. Vou die eiermengsel by die maaskaas in en voeg die meel by. Gooi die mengsel in die voorbereide pan en bak vir 10 minute in die oond. Verlaag die temperatuur tot 140 grade en bak vir 'n verdere uur tot die koek ferm (maar steeds sag) is. Skakel die oond af, maar los die kaaskoek in die oond om af te koel. Sodra die kaaskoek koud is, haal dit uit die pan en plaas op 'n bord. Verkoel in die yskas tot opdiening of dien op teen kamertemperatuur indien verkies.

Het jy geweet?
As mens 'n kaaskoek stadig in die oond laat afkoel, dan bars die vulsel nie oop nie.

2 comments:

  1. Ons bly in Nigerie en die verskeidenheid hier is nie baie groot nie. Ek gebruik toe van hul plaaslike maaskaas (sulke soliede stukke kaas wat na amper niks proe nie), langlewe room uit 'n blik, 'n blender (om die soliede blok maaskaas darem sag en glad te kry) en maak hierdie resep. Sjoe, ek het nog nooit 'n kaaskoek gebak wat so perfek uitgekom het nie. Groot sukses. Ek beveel definitief die resep aan.

    ReplyDelete
  2. Ek bly in Saudi Arabia en alle ander soort kase is hier beskikbaar. Gaan die koek defenitief probeer.

    ReplyDelete