Wednesday, February 4, 2009

Supermaklike Souttert

Een van my gunsteling geregte is Souttert - al daai eiers en ongesonde kouevleis nieteenstaande. So elke nou-en-dan is ek lus vir 'n lekker souttert vir aandete, en dan maak ek gewoonlik die skade op ons cholesterolvlakke minder met 'n slaai of gestoomde groente daarby.

My vriendin Wilma sê my eendag dat mens net so lekker souttert kan maak met brood. So het ek al 'n paar resepte probeer, maar sonder veel sukses. Tot ek toe gisteraand hierdie ene vir aandete maak. Vinnig, maklik en 'n baie lekker manier om van ou brood ontslae te raak...

Supermaklike Souttert

5 snye brood
6 Weense worsies (of 'n blikkie)
4 eiers
500 ml melk
200 g kaas, gerasper
250 g spek
gedroogde pietersielie
rooipeper en mosterdpoeier

Braai die spek tot gaar. Sny die worsies in wieletjies. Gooi nou die brood, eiers, melk, pietersielie na smaak en 'n knippie rooipeper en mosterdpoeier binne-in 'n voedselverwerker en meng tot die brood fyn en alles goed gemeng is.
Gooi die mengsel in 'n mengbak en roer nou die worsies en spek daarby in.
Gooi in 'n gesmeerde (of Spray en Cook) tertbord en sprinkel die gerasperde kaas bo-oor.
Bak in die oond teen 180 grade tot gaar en gestol - so om en by 30-40 minute.

Nota: Jy kan die brood, eiers en melk gebruik vir 'n basis en enige iets waarvoor jy lus voel (of wat jy in die kas het) hierby inmeng.

2 comments: