Friday, March 13, 2009

Alles oor Appeltert

Nou ek was nooit 'n groot aanhanger van warm appels nie (dit val in dieselfde kategorie as warm pynappel). Maar tydens my swangerskap met Erik het ek skielik 'n "craving" van astronomiese proporsies vir appeltert ontwikkel en wel, ek hou nou nog daarvan! Nou kan jy my enige tyd 'n lekker stukkie appeltert gee.

Daar is letterlik honderde appeltert-resepte - en tog is hulle maar eintlik net variasies van dieselfde bestanddele. Ek het al 'n hele paar van hulle probeer. Hierdie is egter my gunsteling vier resepte. Hulle is vinnig, maklik om te maak, het minimaal gesig en gemeng - en jy moet regtig hard probeer om hulle te laat flop.

Twee van die lekkerste kombinasies saam met appeltert is heuning, maar veral karamel. (Die ou wat die karamelkondensmelk een uitgevind het, verdien 'n prys!) As jy wil, kan jy 'n handvol rosyntjies of sultanas oor die appels van enige van hierdie resepte sprinkel - ek doen dit nie, want ek hou persoonlik nie baie van rosyntjies in kos nie (maar in chocolates is dit OK!).

Appeltert behoort louwarm met room of roomys geëet te word, maar hoe jy hom eet hang net van jou af!

Ma Yvonne se Heuning-Appeltert

Hierdie is my skoonma se resep (en my man se gunsteling - wonder hoekom?!).

250 ml meel
125 ml suiker
20 ml bakpoeier
2 ml sout
1 eier
125 ml melk
37,5 ml botter of margarien
410g-blik tertappels

Sous:
25 ml botter of margarie
37,5 ml heuning

Sif droë bestanddele saam. Verhit melk en botter tot louwarm en botter gesmelt is. Klits eier en voeg dit by die melkmengsel. Roer mengsel in droë bestanddele in (roer stadig, geneig om klonte te maak). Plaas ‘n dun laag deeg onderin ‘n gesmeerde tertbord. Druk appels effens fyn. Sit laag appels bo-op deeglaag. Skep orige deeg bo-oor en maak gelyk.
Bak teen 180 grade vir ongeveer 15 minute tot gaar en goudbruin.Berei in tussen die sous: Smelt die sousbestanddele saam en giet oor warm tert sodra dit uit die oond kom. Steek paar gaatjies in met vurk sodat dit kan intrek.

Ma Retha se Appeltert

Hierdie een is weer mý ma se resep - en my gunsteling. Hy is op sy lekkerste louwarm met roomys wat so oor sy korsie smelt...

820g-blik tertappels
kaneelsuiker na smaak
250 g margarien
625 ml koekmeelblom
12,5 ml bakpoeier
knippie sout
250 ml bruinsuiker
1 eier, geklits

Sous:
125 ml heuning
12,5 ml margarien
25 ml water

Sny die tertappels bietjie kleiner en pak onderin 'n gesmeerde reghoekige glasbak. Spinkel kaneelsuiker na smaak oor. Smelt die margarien. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout, meng die suiker by. Meng dit by die margarien in. Voeg die geklitste eier by en meng goed.
Neem stukke deeg en druk dit plat in jou hande. Plak dit bo-op die tertappels tot al die appels bedek is.
Bak in 'n voorverhitte oond teen 180 grade tot die kors gaan en goudbruin is.

Berei intussen die sous: Smelt alles saam. Skep oor die warm tert as dit uit die oond kom. Bedien louwarm met roomys.

Karamel-Appeltert

Dit is seker die bekendste appeltert in die land - ek dink almal het hom al geproe! As die nood druk kan jy die ingedampte melk vervang met melk, maar dit bly maar die lekkerste met die ingedampte melk.

250 ml suiker
37,5 ml margarien
n3 groot eiers
230 ml bruismeel
2 ml bakpoeier
knippie sout
60 ml melk
385g-blik onversoete tertappels

Karamelsous:
410g-blik ingedampte melk
250 ml suiker
5 ml karamelgeursel

Voorverhit die oond tot 180ºC. Smeer ‘n vierkantige oondvaste bak.Room die suiker en margarien saam. Voeg die eiers by. Sif die droë bestanddele en meng goed. Roer die appels liggies in. Bak vir 30-40 minute of tot gaar.

Berei intussen die sous: Kook alles saam; roer gedurig. Giet oor die warm tert sodra dit uit die oond kom.

Kondensmelk-Appeltert

Hierdie is die jongste toevoeging tot my gunsteling appelterte. En raai, dit los nog genoeg karamelkondensmelk oor om met die lepel uit die blikkie te eet! Die sous is egter bietjie problematies - ek het gevind die enigste manier om dit glad te kry, is om dit met 'n blender stick te whizz; om een of ander rede los karamelkondensmelk nie sommer net op nie...

2 eiers
250 ml suiker
20 g margarien
100 ml melk
250 ml bruismeel
knippie sout
410g-blik tertappels

Kondensmelksous:
100 ml karamel kondensmelk
250 ml melk

Klits die eiers en suiker saam tot romerig. Vog nou die margarien en melk by en meng goed. Voeg die bruismeel en sout by en meng tot 'n gladde deeg.
Smeer 'n groot tertbord en pak die appels ín 'n laag onderin die bord. Skep die deeg bo-oor en maak gelyk.
Bak teen 180 grade vir 30 minute.

Berei intussen die sous: Plaas die kondensmelk en melk in 'n mikrogolfvaste beker en mikrogolf op hoog tot die mengsel warm is en die kondensmelk gesmelt is. Haal die tert uit die oond en prik die bokant van die tert met 'n vurk. Giet die warm sous oor die tert en laat afkoel tot louwarm voor bediening.

No comments:

Post a Comment