Friday, March 13, 2009

Skaapskenkelpastei

'n Paar jaar gelede het ek by Gys en Marguerite Lombard op hulle plaas op Loeriesfontein gekuier. En het ek lekker geëet! Tannie Marguerite is 'n uithalerkok en my persoonlike gunsteling was die skaapskenkelpastei wat sy eendag vir ons voorgesit het.

Nou ek het al party dae lank in die winkel gestaan ek kyk waar die skaapskenkels dan nou weggesteek word. (Natuurlik help dit as jy 'n skaapboer is!) Maar ons het so 'n tydjie terug 'n heel skaap gekoop en nou waarlik - die skenkels was daarby! En sulke odd stukkies vleis wat geen mens weet wat om mee te maak nie. En net daar besluit ek skenkelpastei! En dit was heerlik. Selfs Erik wat meeste van die tyd maar vol vlooie is met kos, het omtrent die helfte van die pastei op sy eie opgeëet. Ek hoop Tannie Marguerite vergewe my, maar hier is haar heerlike resep:

Marguerite se Skaapskenkelpastei

1,4 kg skaapskenkels (en ander odd stukkies skaapvleis)
25 ml olie
1 hoender aftrekselblokkie
1 ui, gekap
50 ml koekmeelblom
25 ml sampioen soppoeier
250 ml melk
410g-blikkie sampioene, gedreineer
10 ml aangemaakte mosterd
125 ml gerasperde kaas, opsioneel
sout en peper na smaak

Kors:
125 ml melk
125 ml olie
1 eier
200 ml ongesifte koekmeelblom
10 ml bakpoeier
sout na smaak

Kook die skaapskenkels tot sag en dreineer. (Ek gooi dit sommer oornag in die slow cooker.)
Hou 200 ml van die aftreksel terug. Ontbeen die vleis en sny in blokkies. Gooi dit terug in die kastrol.
Braai die ui en hoenderblokkie in die olie tot die ui sag is. Meng die koekmeelblom, soppoeier en melk goed saam en voeg dit by die uiemengsel. Voeg die sampioene, mosterd, kaas, sout en peper by. Roer die mengsel by die vleis in die kastrol en laat prut tot die sous verdik. Skep die mengsel in 'n gesmeerde pasteibord.

Kors: Meng die bestanddele vir die kors goed saam. (Dit is 'n baie loperige mengsel!) Skep dit bo-op die vleis. Bak in 'n voorverhitte oond teen 200 grade vir 20 minute.

1 comment:

  1. Hi Leanda
    Ek is Rachelle, Gys & Marguerite se dogter. Familie van ons wat in Qatar woon stuur vandag vir my hierdie link en ek kon sowaar nie my oe glo nie!! Ek't dadelik my ma gebel en sy is totaal stom - kan nie glo haar resep is 'famous' nie!! Sal heerlik wees as ons dalk weer kan kontak maak.....Rachelle

    ReplyDelete