Tuesday, March 17, 2009

Die Beste Pannekoek

Ek was so lanklaas op hierdie blog dat ek eintlik skaam voel! So dis winter. Ek hoor van almal in die Kaap dat dit omtrent gereën het. Ek weet nie presies waar die reën wegkruip nie, maar al wat ons hier kry is koud. Baie baie koud. Dit het darem vir 'n paar dae lank gereën hier, en so met die gepatter-patter van die reën op ons dak en die wind om die hoeke, raak ek toe sommer nostalgies en besluit net daar - ek gaan pannekoek bak om die lekker reëntjie te vier! En nou wag ek net vir die winter om terug te kom sodat ek weer 'n verskoning het om pannekoek te bak!

Ai, pannekoekresepte. Ek vermoed daar is duisende. Waarvan ek al heelwat probeer het, moet ek erken. En net so baie soos wat ek al probeer het, net so baie het al geflop ook! Later het ek gedink dat miskien is die tegniek van die bakster belangriker as die resep? Ek kon nog nooit dit regkry om pannekoek te bak sonder dat die eerste een flop nie, maar met die volgende drie resepte het ek dit reggekry om net één te laat flop. Daar is volgens my net één moet vir die perfekte pannekoek: 'n NON-STICK PAN!!!


Hierdie is almal gróót resepte. Soos ek dit sien moet jy ordentlik pannekoek bak as jy dit die slag doen. Pannekoek kan met welslae bevries word (sien hieronder). Ek het selfs al gehoor dat mense pannekoekbeslag vries, maar ek het dit nog nooit self probeer nie.

Yvonne se Basaarpannekoek


Hierdie is die eerste pannekoekresep wat my soos 'n bobaas pannekoek-bakster laat voel het! Ek maak gewoonlik dié deeg aan vir basaars en fondsinsamelings, want dit flop net eenvoudig nie. Ek het die resep jare terug by my skoonma gekry en ek is seker sy sal nie omgee as ek dit met julle deel nie.

4 eiers
5 x 250 ml water
250 ml olie
50 ml asyn
4 x 250 ml koekmeelblom
5 ml koeksoda
5 ml sout
20 ml bakpoeier

Klits die eiers en water saam. Gooi die olie en asyn by. Voeg die meel, koeksoda en sout hierby en klits goed sodat daar nie meer klonte is nie. Meng die bakpoeier by die beslag in net voordat dit gebak word.
Gooi 'n bietjie olie in die pan voor die eerste pannekoek gebak word. Ek gebruik so ongeveer 'n driekwart soplepel beslag vir 'n meduim pan. Bak die pannekoeke (sonder om weer olie by te gooi) tot al die beslag opgebruik is.

Huis De Kuilen Pannekoeke


Elke Vrydag het Huis De Kuilen 'n pannekoekverkoping ten bate van die Ouetehuis. Hulle pannekoek is heerlik, en met groot gesukkel het ek darem uiteindelik die resep gekry. Hierdie is die perfekte pannekoek vir 'n basaar of verkoping - dis goedkoop en lewer 'n groot klomp pannekoeke.

18 XL eiers
750 ml olie
5 liter water
10 ml asyn
2,5 kg koekmeelblom
15 ml sout
25 ml bakpoeier


Klits die eiers en olie saam. Voeg die water en asyn by en klits weer goed. Voeg die meel en sout by en meng. Voeg laastens die bakpoeier by. Gooi die beslag deur 'n sif om enige klonte te verwyder. Laat die beslag oor nag staan. Bak in 'n warm pan.


Pannekoekverkoping Pannekoek


Hierdie resep is 'n variasie van bogenoemde een, maar hy is net so suksesvol. Ons het so drie jaar terug 'n pannekoekverkoping vir Erik se speelskooltjie gehou. Ons doelwit was om vir hulle 'n "jungle gym" aan te koop - en met warm kaneelsuiker pannekoeke daardie dag, het ons die "jungle gym" en nog meer weggebak! Ons het die volgende resep gebruik:

20 eiers
375 ml olie
30 ml suurlemoensap
1,5 liter water
2,5 ml koekmeelblom
5 x 20 ml bakpoeier
30 ml sout
1,5 ml water

Klits die eiers goed saam. Voeg die olie, suurlemoensap en 1,5 liter water by. Klits weer goed. Voeg nou die meel, bakpoeier en sout by. Klits die mengsel goed tot daar nie meer klontjies in is nie. Voeg die res van die water by en meng. Laat die beslag oornag staan en bak die volgende dag. (Voeg nog water by indien die beslag te dik is.) Bak in 'n warm pan.


Wenk
Die vries van Pannekoeke:
As jou resep baie pannekoeke lewer en julle is al 'n bietjie moeg van pannekoek eet, kan jy dit altyd vries vir 'n ander dag. Sit die pannekoeke met 'n stuk cling-wrap of waspapier tussen elke pannekoek om te keer dat dit nie vassit nie. Sit in 'n plastiese sak en vries. So maklik soos dit. As jy dit wil ontvries, dan sit jy net die pannekoek(e) op 'n bord en stop dit in die mikrogolf.

1 comment:

  1. 2,5ml koekmeel by pannekoekverkoping pannekoek en 100ml bakpoeier?

    ReplyDelete