Wednesday, March 25, 2009

Kluitjies of SOUSkluitjies

Ek hou van 'n souskluitjie - die kere wat ek dit by ander mense geëet het. Vir jare was ek afgesit daarvan om souskluitjies self te maak, oor horror stories van "kluitjies wat platgeval het" en ander nasty dinge wat met kluitjies kan verkeerd gaan.

Tot ek dié volgende resep gekry het. Ek het dit eendag probeer en nou waarlik! Dit was heerlik en dit het nie geflop nie - en die kluitjies was lig en pragtig!

Maar dis hier waar die geheim inkom. MOENIE die deksel oplig nie. As jy regtig nie anders kan nie, gebruik 'n pot met 'n deurskynende deksel, maar as jy daardie deksel opgesit het, dan lig jy hom nie weer op voordat die kooktyd verstreke is nie. Onder geen omstandighede nie - selfs al ruik jy iets brand of vermoed jy jou kat het in die pot beland of jou man dringend sy karsleutels soek en dit nêrens kan kry nie - MOENIE OPLIG NIE!!!

In die woorde van Wenresepte superster Annette Human : "As jy dit doen, gaan die kluitjies neerslaan en dan is hulle hul naam waardig: kluitjies in sous."

So ek sê weer - MOENIE OPLIG NIE!!!

Onfeilbare Souskluitjies

Maak eers die sous:

750 ml koue water
250 ml wit suiker
10 ml margarien
7 ml kaneel
knippie sout

Meng alles saam in 'n groot kastrol en verhit tot kookpunt. Onthou om 'n kastrol te gebruik met 'n deksel wat dig pas. Maak intussen die beslag:

250 ml bruismeel
125 ml wit suiker
1 ml bakpoeier
1 ml sout
40 g margarien
1 eier en
genoeg koue water om saam 100 ml op te maak

Sif die meel, bakpoeier en sout saam in 'n mengbak. Voeg dan die suiker by. Voeg die margarien by en frummel dit met jou vingertoppe saam met die meel totdat dit soos fyn krummels lyk. Klits die eier en die water saam tot goed gemeng. Voeg dit by die meelmengsel en meng dit goed.
Skep lepelsvol van die beslag in die kokende stroop. Sit dadelik die deksel op en verlaag die hitte effens. Laat die kluitjies vir 8 minute stadig kook.
Bedien die kluitjies met die sous, vla of roomys.

En wanneer jy nou hierdie resep baasgeraak het, en lus voel vir iets meer gewaagd, probeer gerus hierdie lekker resep:

Spesery Kluitjies

Maak eers die sous:

500 ml water
180 ml wit suiker
1 ml sout
5 ml fyn gemmer
5 ml fyn kaneel
2 ml fyn naeltjies

Verhit die al die sousbestanddele saam in 'n kastrol met 'n digpassende deksel. Roer tot die suiker opgelos is en bring tot kookpunt. Maak intussen die beslag:

60 g margarien
125 ml fyn appelkooskonfyt
10 ml koeksoda
375 ml koekmeelblom
1 ml sout
1 eier

Smelt die margarien in 'n kastrolletjie en voeg die appelkooskonfyt by. Roer tot dit gesmelt is en roer die koeksoda by sodat die mengsel kan skuim. Voeg nou die meel en sout by en roer met 'n houtlepel tot dit 'n stywe bal vorm. Verwyder dit van die stoof en laat effens afkoel. Klits die eier, en voeg dit by die beslag in met 'n houtlepel. Dit vorm 'n klewerige deeg.
Skep lepelsvol van die deeg in die kokende stroop. Verlaag die hitte effens. Bedek die kastrol en en laat dit 15-20 minute lank prut.
Die kluitjies smaak heerlik met vanilla roomys.

5 comments:

  1. Baie dankie vir jou resepte. Ek sit in New Zealand en manlief bak altyd vir ons, maar ons wou iets anders doen en die spesery kluitjies is absoluut uit die boonste rakke.

    ReplyDelete
  2. My eerste probeerslag ooit en die kluitjies was soos sagte wolkies. Neem my sommer terug na my kinder jare en my ouma se kluitjies.

    Baie dankie vir die heerlik en maklike resep.

    Groete vanuit London.

    ReplyDelete
  3. Ek gaan probeer. Nog nooit self gemaak. Dankie

    ReplyDelete
  4. Gemaak en bak is leeg. Baie dankie gaan beslis weer maak.

    ReplyDelete
  5. Dankie ek gaan gou v hulle maak - ekt resep vergeet maar met jou hulp kan ek gou weer maak dis lekker koud hier in jhb

    ReplyDelete