Tuesday, March 31, 2009

Sjokoladekoek O, Sjokoladekoek !

Soos met kaaskoek, is ek alewig op soek na die perfekte sjokoladekoek resep. Die soektog sou baie makliker gewees het as my vriendin Irene haar sjokoladekoek resep met my wou deel, maar aangesien ek net 'n "no" van haar kry as ek vra, is dit nou maar net my plig om die naas-perfekste sjokoladekoek te vind en met julle te deel.

En daar is 'n paar wat naby kom. Probeer gerus die volgende resepte en laat my weet wat julle dink?

Anita de Villiers se Sjokoladekoek

Ek ken Anita de Villiers nie persoonlik nie, maar sy kan 'n sjokoladekoek bak! Sy is my oorlede skoonpa se niggie, en ek is seker sy sal nie omgee as ek haar lekker resep met julle deel nie.

500 ml wit suiker
500 ml bruismeel
2 ml sout
250 g botter of margarien
250 ml water
75 ml kakao, gesif
2 eiers
125 ml karringmelk
5 ml koeksoda
5 ml vanillageursel
2 ml kaneel

Sif die suiker, bruismeel en sout saam in 'n mengbak. Sit die botter, water en kakao saam in 'n kastrolletjie en verhit tot al die botter gesmelt het. Voeg dit by die meelmengsel en roer goed deur. Klits die eiers liggies met 'n vurk en voeg by. Voeg die karringmelk, koeksoda, vanilla en kaneel by. Roer tot alles goed gemeng is en gooi die beslag in 'n gesmeerde reghoekige glasbak (33x23x5cm). Bak in die voorverhitte oond by 180 grade vir 30-40 minute of tot die koek gaar is.

Berei intussen die versiersel:


250 g versiersuiker
125 ml kakao
65 g botter of margarien, gesmelt
75 ml karringmelk


Sif die versiersuiker in kakao saam in 'n mengbak. Smelt die botter en voeg by. Voeg laastens die karringmelk by en meng goed.
Smeer die versiersel ook die warm koek sodra dit uit die oond kom. Laat in die bak afkoel en sny in blokkies.

(Ek vind dat die versiersel geneig is om langs die kante van die koek te poel, so soos dit afkoel kan jy maar weer van die versiersel oor die koek smeer.)


Suzann se Sjokoladekoek


Tannie Suzann Jacobs is my skoonma se goeie vriendin van die Strand. Hierdie vinnige en maklike (en belangriker - flatervrye) sjokoladekoek het my al menigde male uit gered as ek vinnig 'n koek vir 'n funksie of gaste aanmekaar moet slaan. Dit word ook in 'n reghoekige glasbak gebak.


3 eiers
125 ml olie
250 ml kookwater
250 ml suiker
440 ml koekmeelblom
15 ml bakpoeier
knippie sout
60 ml kakao
5 ml vanillageursel

Voorverhit die oond tot 180 grade. Spuit 'n reghoekige glasbak met kleefwerende middel.
Skei die eiers en klits die eiergele goed. Voeg die olie en water by en klits goed. Voeg nou die suiker by en klits weer goed. Sif die droë bestanddele saam, voeg dit by die eiermengsel en meng goed. Klits die eierwitte styf en vou dit by die mengsel in. Voeg laastens die vanilla by. Gooi die beslag in die glasbak en bak dit vir 35 minute of tot gaar.
Die koek kan versier word met sjokoladeversiersel, gekookte kondensmelk of enige ander versiersel van jou keuse.


Nestlé Sjokoladekoek

Hierdie reseppie het ek eendag op 'n Nestlé kakao-blikkie gekry. Dit het nogal lekker gekom. Dis 'n klein resep - ideaal vir 'n ringpan, 1 enkel ronde- of vierkantige koekpan.

250 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
knippie sout
60 ml kakao
125 ml warm water
3 eiers, geskei
60 ml olie
220 ml suiker
3 ml vanillageursel

Sif die meel, bakpoeier en sout saam in 'n mengbak. Meng die kakao en warm water in 'n beker en laat afkoel. Meng die eiergele, olie, suiker en vanilla. Meng die kakao hierby in. Vou hierdie mengsel by die droë bestanddele in die mengbak en meng goed. Klits die eierwitte tot styf, en vou dit liggies by die beslag in.
Skep die beslag uit in die koekpan van jou keuse en bak teen 205 grade vir 20-25 minute of tot die koek gaar is. Versier die koek na jou keuse.


Die koek kan ook in die mikrogolf gebak word: Gooi die beslag in 'n 21 cm plastiek ringvorm. Plaas op 'n omgekeerde piering. Mikrogolf dit op medium-hoog (80%) vir 10-12 minute.

Wenke:
Karringmelk - As jy nie karringmelk in die huis het nie, kan jy die volgende probeer om dit te vervang: Gooi 15 ml wit asyn of suurlemoensap in 'n maatbeker en vul dit melk melk aan tot 250 ml. Laat staan vir 5 minute en gebruik soos die karringmelk in die resep.
OF verhit 25o ml melk effens in die mikrogolf. Voeg 22,5 ml (1.5 eetlepel) suurlemoensap of 20 ml wit asyn by die melk en meng goed. Laat dit staan tot die mengsel afgekoel het.
OF gebruik 250 ml suurroom of gewone joghurt vir elke 250 ml karringmelk in die resep.
OF meng 25 ml kremetart met 250 ml melk en laat staan tot dit verdik het.
OF gebruik 125 ml melk en 125 ml gewone joghurt vir elk 250 ml karringmelk in die resep.
OF meng 250 ml ingedampte melk met 15 ml asyn.

No comments:

Post a Comment