Tuesday, March 31, 2009

Ietsie met Aartappel

Ons mense is mos maar lief vir 'n aartappel. En ondanks die feit dat aartappels in die afgelope jare van "taboo kos" tot "gesonde kos" beskuldig is, bly ons maar nog steeds lief vir 'n aartappel. Dit kan mens sommer gou sien aan die ongelooflik baie resepte wat daar vir aartappels is. Hierdie is van my gunstelinge:

Klassieke Molshope

Kapokaartappels is my dood. Hier op Napier is 'n restaurant wat die lekkerste vark schnitzel maak, en daarmee saam kom die heerlikste kapokaartappels. Ek het gou besef wat die geheim daaragter was: roosmaryn. Maar al probeer ek ook hoe met die roosmaryn, kan ek nog steeds nie my "mash" na hulle s'n laat smaak nie. Hier is nog 'n lekker resep met kapokaartappels - dit mag dalk by baie van julle bekend wees.

8-10 groot aartappels
bietjie melk
bietjie margarien
3 ml bakpoeier
sout, peper en geurmiddels na smaak
250 ml room
125 ml gerasperde kaas

Skil en kook die aartappels in soutwater tot sag. Dreineer en druk fyn. Voeg 'n bietjie melk, margarien en die bakpoeier by en meng goed. Geur na smaak. Skep hompe aartappel met 'n roomyslepel in 'n gesmeerde vlak oondbak.
Gooi die room bo-oor die aartappels en sprinkel die kaas oor.
Bak dit vir 20-25 minute teen 180 grade tot die gereg deurwarm en die kaas gesmelt is.
Bedien warm.

Opge-Jazz-De Molshope

So 'n tydjie terug het ons mense oor vir 'n braai en toe besluit ek dit is weer tyd om molshope te maak, maar ek het nie room nie. Wat dan nou gemaak? Toe improvise ek maar die klassieke molshope resep en dit is wat daar uitgekom het. Nou wonder ek - klassieke molshope of opge-jazz-de molshope? Besluit jy maar self.

8-10 groot aartappels
bietjie melk
bietjie margarien
3 ml bakpoeier
sout en geurmiddels na smaak
250 g spek
125 g sampioene, gesny
1 pakkie kits kaassous
125 ml gerasperde kaas

Skil en kook die aartappels in soutwater tot sag. Dreineer en druk fyn. Voeg die melk, margarien en bakpoeier by en meng goed. Geur na smaak met sout en geurmiddels. Skep hompe aartappel met 'n roomyslepel in 'n gesmeerde vlak oondbak.
Braai nou die spek en sampioene saam tot gaar. Skep dit oor die aartappels. Maak die sous aan volgens die aanwysings op die pakkie en gooi dit oor die aartappels. Sprinkel die kaas bo-oor en bak vir 30 minute teen 180 grade tot die gereg deurwarm en die kaas gesmelt is.
Bedien warm.

Geheime vir Veerligte en Flatervrye Kapokaartappels:

Moet nooit jou kapokaartappels klits of in die voedselverwerker maak nie - dit word taai.
Verhit melk of room effens voor jy dit by die kapokaartappels inmeng.
Gebruik karringmelk in plaas van melk of room vir 'n lekker suur smakie.
As jy kapokaartappels vir baie mense maak, kan dit warm gehou word in 'n prutpot
(slow cooker).
Meeste wortelgroentes smaak baie lekker as dit saam met aartappels ge-mash word. Gooi volgende keer wortel of patat by. Uie en knoffel is ook lekker.
Oorskiet kapokaartappels kan gebruik word om souse, sop of bredies te verdik.
Dit wil voorkom asof kapokaartappels wel gevries kan word. Plaas die aartappels in 'n plastieksakkie en druk al die lug uit. Verseël en vries. Wanneer jy dit wil ontdooi, dop die aartappel uit die sakkie uit en sit in 'n bak. Mikrogolf op hoog tot die aartappel vuurwarm is. Roer deur. (Ek het nog nie kapokaartappels gevries nie, maar hierdie metode het ek al gebruik vir ander geregte met aartappel. As jy dit stadig verhit, word die aartappel mushy en baie-baie onsmaaklik.)
As jy aartappelrosies met 'n versierspuit wil spuit, kan jy 'n geklitste eier by die aartappel inmeng om te sorg dat die rosies hul vorm behou.

1 comment:

  1. Baie, baie dankie! Jy is ongelooflik. Ek gaan die naweek jou Op-gejazz-De molshope gebruik vir herderspastei. Dit klink heerlik. Baie dankie dat jy dit met ons deel.
    Groete
    Hilda

    ReplyDelete