Tuesday, March 31, 2009

Ietsie met Aartappel 2

Al ooit opgelet hoe goed blatjang saam met aartappels gaan? Indien nie, is ek seker dat hierdie twee resepte jou van mening sal laat verander.

Blatjang Aartappels

6-8 medium aartappels
sout
250 ml blatjang (ek gebruik maar altyd Mrs Balls)
250 ml kookwater
125 ml mayonnaise
1 pakkie bruin uiesoppoeier
gerasperde kaas na smaak

Kook die aartappels met die skil aan tot net sag. Verhit solank die oond tot 180 grade.
Dreineer die aartappels en behou die skil. Halveer elke aartappel oorlangs. Plaas die halwes met die gesnyde kante na bo in 'n vlak oondvaste bak. Meng die blatjang, kookwater, mayonnaise en uie soppoeier saam en skep dit oor die aartappels. Sprinkel die kaas bo-oor. Bak die gereg vir 30 minute. Bedien warm.

Warm Aartappelslaai

6 groot aartappels
25 ml olie
2 uie, gekap
250 g spek
125 ml blatjang
125 ml asyn
100 ml olie
15 ml mielieblom (Maizena)
250 ml melk

Kook die aartappels in soutwater tot sag. Sny dit in blokkies. Braai die uie in die 25 ml olie in 'n groot pan. Braai nou die spek saam met die uie tot gaar. Gooi die blatjang, asyn en orige olie by die mengsel in die pan en kook vinnig vir 2 minute. Meng die mielieblom met die melk en gooi dit stadig by die mengsel. Roer vinnig. Kook alles saam vir nog 2 minute. Gooi die sous oor die aartappels en meng liggies deur. Bedien warm.
(Vir variasie kan jy ook sampioene en/of soetrissies saam met die uie braai en dit byvoeg. As jy die spek uitlaat, het jy sommer 'n vegetariese weergawe van die gereg.)

No comments:

Post a Comment