Wednesday, April 1, 2009

Sjokolade Laagkoek

Laas het ek julle bietjie uitgehelp met sjokolade plaatkoeke en 'n klein sjokoladekoek, maar ek het twee wonderlike sjokolade laagkoek resepte wat ek met julle wil deel. Hierdie laagkoeke is ideaal vir as jy 'n bietjie wil uithang en voel 'n plaatkoek is dalk nie geskik nie.

Coke Sjokoladekoek

Ek het hierdie resep eendag in 'n tydskrif raakgelees en dit uitprobeer. Dit is divine! Dit lewer 'n groot, klam en donker sjokoladekoek.

250 ml Coke
125 ml kakao
4 ekstra groot eiers
375 ml suiker
125 ml olie
5 ml vanillageursel
450 ml koekmeelblom
15 ml bakpoeier
2 ml sout

Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer twee 22cm-laagkoekpanne met margarien of spuit dit met Spray & Cook.
Meng die Coke en kakao saam tot glad. Laat eenkant staan. Skei die eiers. Klits die eiergele en suiker baie goed saam tot lig en dik. Roer die kakaomengsel hierby, dan die olie en die vanillageursel. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en roer by. Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm en vou dit by die beslag in.
Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak in die middel van die oond vir 25-30 minute tot gaar en 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat dit effens afkoel en keer op draadrakke uit om af te koel.
Versier soos verkies.

As jy nie weet watter versiersel om te gebruik nie, die volgende een was deel van die oorspronklike resep:

200 g sjokolade, gekap
250 ml room
60 ml botter, in blokkies gesny

Verhit die sjokolade in 'n dubbelkoker (of gebruik 'n glasbak oor 'n pot met kookwater) oor baie lae hitte tot net gesmelt. Klop vir 1 minuut tot glad. Verhit intussen die room tot louwarm en wanneer dit dieselfde temperatuur as die sjokolade is, roer jy die twee saam. Klop die botter by tot alles opgelos en glad is. Bedek die versiersel en plaas in die yskas tot styf. Sny elke koeklaag horisontaal in twee en smeer 'n dun lagie sjokoladeversiersel op elk. Stapel op mekaar en smeer die res van die versiersel bo-op en langs die kante.

Wenk: Wanneer 'n resep vra dat 'n koeklaag in twee gesny moet word, werk hierdie metode die beste: Vat 'n langerige stuk gare, en sit dit om die koek in die middel, of daar waar jy die koek deurgesny wil hê. Hou die twee ente van die gare oorkruis en trek dit stadig en versigtig na mekaar toe. Die gare gaan dan die koek sonder enige probleme middeldeur sny. Easy peasy!

Maklike Sjokolade Olie-Laagkoek

Hierdie maklike resep is seker by almal bekend. Dit was my eerste sjokoladekoek wat ek met sukses gebak het, en ek bak hom tot vandag toe nog. Ek het dit in 'n ou-ou tuisnywerheid resepteboekie van my ma gekry.

5 ekstra groot eiers
310 ml suiker
200 ml water
200 ml olie
500 ml koekmeelblom
50 ml kakao
2 ml sout
5 ml koffiepoeier
20 ml bakpoeier

Voorverhit die oond tot 190 grade. Spuit twee 24cm-laagkoekpanne liggies met Spray & Cook. Skei die eiers. Klits die eiergele, suiker, water en olie saam vir 5 minute. Sif die koekmeelblom, kakao, sout en koffiepoeier oor die mengsel en klits weer vir 'n verdere 3 minute. Vou die bakpoeier hierby in. Klits die eierwitte styf en vou dit by die beslag in. Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak die koek vir 30 minute.
Wanneer die koek uit die oond kom, maak die kante los en laat dit in die panne koud word voor dit uitgekeer word. Versier soos verkies.

Wenk vir 'n Lui Huisvrou:
Meeste koeke gebruik geklitste eierwitte as bestanddeel. Indien jy nie geweet het nie, dit word gebruik as rysmiddel en om die koek lig te hou. Maar ons weet almal dat as daar met die eier se skei van die eiergeel in die eierwit beland, sal die eierwit nie styfklits nie. En ons is darem ook nie nou lus om die eierklitser te gaan was terwyl ons besig is om te konsentreer om die koek aanmekaar te slaan nie. Dus, wat ek altyd doen is, klits eers die eierwit deeglik styf en maak dan die koek vinnig aan. Jy kan dan maar bymekaarklits wat jy wil, ten minste is jou eierwitte styf.

5 comments:

  1. HELLO LEANDA. EK BESIT 'N TUISNYWERHEID EN IS OP SOEK NA DIE TUISNYWERHEID RESEPTE BOEK. GROETE ESTIE

    ReplyDelete
  2. Hi Estie,
    Jong, ek sal vir jou moet uitvind van die boekie. My ma het die boekie jare-der-jare terug gehad. Ek weet nie of sy dit nog het nie. Maar jy is welkom om die resep te gebruik as jy wil.
    Lx

    ReplyDelete
  3. Leanda, ek het per toeval op die blad afgekom. Ek bly in Botswana, en wil vir jou vra om vir my asb nog staatmaker tuisnywerheid resepte te stuur as jy het. Groete Riana

    ReplyDelete
  4. Leandra

    Jameer om te pla ek bly in plettenbergbaai en is dringend op soek na koek resepte wat tuisnywerhede gebruik want ek dink die een wat ek bruik is duur. kan jy my dalk help met enige soort resepte wat ek kan maak veral melktert ook my email adress is joanvanderberg@gmail.com

    dankie joan

    ReplyDelete
  5. Môre dames ... Ek soek ook asb heerlike, maklike, goedkoop tuisnywerheid resepte. Ek het my eie tuisnywerheid saam 'n vennoot en ons soek altyd resepte! Asb, ek sal dankbaar wees.
    Baie dankie
    Suzettehp@gmail.com

    ReplyDelete