Wednesday, April 1, 2009

Dekadente Sponskoek

Ons het almal daardie resepte wat mense assosieer met jou. Hierdie is een van myne. As ek mense oorkry en hulle sien die koek op die tafel, dan is die kommentaar gewoonlik iets soos: "Leanda, is dit daardie dekadente sponskoek van jou?" Ek hoop dit word só 'n gunsteling onder jou gaste soos dit onder myne is.

Dekadente Sponskoek

4 ekstra groot eiers
375 ml strooisuiker
5 ml vanillageursel
500 ml koekmeelblom
2,5 ml sout
15 ml bakpoeier
125 ml melk
125 ml water
30 ml olie
125 g margarien
390g-blikkie karamelkondensmelk
250 ml room

Voorverhit die oond tot 180 grade. Spuit twee 24cm-laagkoekpanne met Spray & Cook.
Klits die eiers, suiker en vanillageursel saam vir ongeveer 5 minute tot romerig. Sif die meel, sout en bakpoeier saam in vou dit by die eiermengsel in met 'n metaallepel. Smelt die melk, water, olie en margarien saam tot net voor kookpunt en roer dit deeglik in bogenoemde mengsel. Gooi die beslag in die koekpanne.
Bak die koek vir 25-30 minute of tot gaar en 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Wanneer die koek uit die oond kom, maak die kante los en laat effens afkoel voordat dit uitgekeer word.
Laat die koek heeltemal koud word. Roer die karamelkondensmelk goed totdat daar nie meer klonte in is nie. Klits die room styf. Skep die helfte van die kondensmelk bo-op die een koek, en smeer egalig. Skep die helfte van die room bo-op die kondensmelk en smeer egalig. Plaas die tweede koek bo-op dit. Smeer die res van die kondensmelk bo-op die koek. Gebruik die orige room om roomrosies bo-op die koek te spuit. Frummel die Flake bo-oor die koek.
Verkoel die koek as dit nie dadelik geëet gaan word nie. Laat so 'n uur voor opdiening buite die yskas om net na kamertemperatuur terug te keer.

Het jy geweet?
Hierdie koek word met 'n metaallepel gemeng om dit lig te hou.

2 comments:

  1. Ek wil net vir jou baie dankie se vir die wonderlike resep. Ek het op die resep afgekom aan die begin van Augustus toe ek 'n maklik maar tog lekker resep gesoek het om 'n koek te bak vir ons 10de Huweliksherdenking. Ek het die resep net aangepas om 'n groot koek me te maak en nie die koek versier met dieroom en kondensmelk niue, mmar me versiersuiker. Dit was heerlik. Ek't die resep ook gebruik vir ons jaarlikse damestee by die skool en dit was 'n trefffer. Sederdien is dit hierdie resep wat ek en my vriendin gebruik om alle verjaarsdae koeke en sommer "cupcakes" ook te maak. Ek gaan juis nou weer die 22ste Januarie die resep gebruik om my dogtertjie se verjaardag koek te maak. Weereens baie dankie vir die wonderlike, maklike, heerlike resep. Groete uit die winderige stad, P.E.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek stem saam, ek het soortgelyke resep in Snowflake se Beter Gebak resepteboek gekry en ek gebruik net dit vir al my koeke en cupcakes! Ons huishouding se gunsteling is om klapper by die beslag in te roer en ook Cocunut essence by te sit. Dit werk ook baie lekker vir funfettin cake.

      Delete