Friday, March 13, 2009

Beste Piesangbrood

Piesangbrood is nog een van daai dinge wat eenvoudig is om te maak, en mens goed kan uit-bail as jy onverwags gaste kry. My ma het vir jare die piesangbrood in die Kook & Geniet gebak, dit was 'n heerlike resep - tot ek eendag hierdie een probeer het. En sedertdien is dit al piesangbrood wat ek bak. As ek oorryp piesangs in die huis het, bak ek dié brood. Die geheim van 'n lekker klam piesangbrood is natuurlik oorryp piesangs. Hoe ryper, hoe lekkerder en geuriger die brood. En natuurlik is piesangbrood ook heel dwars - hoe ouer, hoe lekkerder. Hou dit maar in 'n lugdigte houer, en as brood gou muf word in jou omgewing, eet hom maar vinniger as later op.

Die resep is 'n groot resep - dit lewer drie piesangbrode. Dit vries baie goed. Draai die broodjie in cling wrap toe, en dan in tinfoil. As jy hom ontvries, ontvries hom net so in die cling wrap, anders mag hy dalk klam trek en dit is glad nie aptytwekkend nie.

Piesangbrood

250 g margarien
500 ml suiker
6 eiers
5 x 250 ml + 60 ml koekmeelblom
3 ml koeksoda
30 ml bakpoeier
7 ml sout
750 ml fyn piesang (8-10 groot piesangs)
15 ml vanillageursel


Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer drie klein broodpannetjies goed.
Room die botter en suiker. Klits die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Sif die meel, koekoda, bakpoeier en sout saam. Vou die droë bestanddele afwisselend met die fyn piesang in die bottermengsel in. Verdeel die beslag tussen die drie broodpannetjies. Bak vir ongeveer 60 minute of tot gaar.

Variasie:
Vir ietsie anders kan die beslag ook in gesmeerde muffinpanne geskep word. Bak dan vir 20-30 minute by 180 grade.

6 comments:

  1. Heerlike resep - het dit gisteraand beproef en vanoggend is ontbyt koningskos!

    ReplyDelete
  2. Wonderlike resep, baie dankie! Ek het net 3 piesangs gehad en toe sommer jou resep in 3 gedeel om een broodjie te maak. Ek het ook bietjie gekapte peukanneute bygevoeg - HEERLIK! Nogmaals, baie dankie!

    ReplyDelete
  3. Het resep op internet gesoek. Resepteboeke kom eers komende week met trek vanaf Langebaan! Was gister in Tzaneen en het kloooomp piesangs terug gebring JHB toe, eerste gedagte was toe PIESANGBROOD!!! Gaan hom probeer en laat weet! Baie dankie!!! Groete
    Sonja vd Merwe

    ReplyDelete
  4. Ek het verhuis Moz.toe maar wag nog vir my trek
    Ek gaan by my families alles leen behalwe die piesangs. Toe my huishulp vir my se die piesangs is oorryp eerste wat in my kop kom is piesangbrood..... En het dit dadelik ge-google Ek gaan dit nog vanaand bak..... Weereens ddankie vir die resep...... Uit 'n Porra land met 'n boere hart.... Maar wil op geen ander plek wees as hier nie!

    ReplyDelete
  5. Ek gaan nou die broodtjies bak, lyk baie yammie.dankie

    ReplyDelete
  6. Haai daar! Ekt die resep met 8 lekker ryp piesangs gemaak en dit het baie droog uitgekom :( Enige voorstelle?

    ReplyDelete